Die VF Plus het gister tydens die eerste raadsitting van die pas verkose munisipale raad in die JB Marks-plaaslike munisipaliteit wat Potchefstroom en Ventersdorp bedien, ‘n mosie ingedien om weg te doen met die verkiesing van ‘n hoofsweep in die raad.
Die amp van hoofsweep in die munisipaliteit het in die verlede geen waarde tot die werking van die raad toegevoeg nie en is ‘n blote vermorsing van belastingbetalers se geld.
Die kantoor van die hoofsweep in dié munisipaliteit word teen ‘n beraamde jaarlikse salaris en operasionele koste van meer as R1,5 miljoen onderhou. Hoofswepe van ‘n vlak 4 munisipaliteit soos JB Marks verdien tans R670 000 per jaar.
In ‘n munisipaliteit waar die infrastruktuur sienderoë verval, is dit nie net ‘n vrugtelose uitgawe nie, maar ‘n skande.
Alle partye wys swepe vir hul onderskeie party-koukusse aan en so ‘n oorkoepelende amp is dus oorbodig, verál in ‘n munisipaliteit soos JB Marks wat reeds met enorme finansiële uitdagings te kampe het.
Die ANC en die Patriotic Alliance het teen die mosie gestem en daarop aangedring dat daar voortgegaan word met die verkiesing van ‘n hoofsweep. Die DA het die VF Plus se mosie ondersteun.
Die mosie is verwerp met 35 stemme teen 25. Die EFF het buite stemming gebly.
Die VF Plus het dit voorts duidelik laat noteer dat die party nie ‘n kandidaat vir die amp sal stel of aan die verkiesing vir iemand in hierdie amp sal deelneem nie.
Die ANC se aandrang op die voortgesette vulling van hierdie amp is weereens ‘n bewys dat die kultuur van selfverryking van ANC-kaders ten koste van die munisipaliteit se inwoners steeds die kern van die ANC se prioriteite vorm.
Die VF Plus sal voortgaan om sulke vergrype en die plundering van openbare fondse te beveg. Die verval moet stopgesit word.
Navrae: 082 415 8628