In ‘n tydsgewrig waar die ANC al hoe meer aggressief teenoor die Israelse staat begin optree, veral die departement van handel en nywerheid se gedwonge herklassifisering van produkte uit besette gebiede, blyk dit nou verder dat die DA in nog ‘n moontlike beleids-ommeswaai saam met die ANC kant kies teen Israel en hom ten volle aan die kant van die Palestynse bevolking in hul stryd teen Israel skaar, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.
Luidens ‘n artikel die week in Business Day Live (17 Februarie 2014) het ‘n afvaardiging van die DA op ‘n parlementêre konferensie vroeër vandeesmaand sy rug op Israel gekeer en hom geskaar by die anti-Israelse sentimente van die ANC. Tydens die konferensie, met die oogmerk om solidariteit te toon met die mense van die Palestynse gebiede, Wes-Sahara en Kuba, is verskeie anti-Israelse resolusies aangeneem, terwyl die DA se parlementêre afvaardiging geen teenstem of enige kommentaar daarteenoor uitgebring het nie.
In November verlede jaar het Maite Nkoana-Mashabane, Suid-Afrika se minister vir internasionale betrekkinge, uitlatings gemaak wat so ontstellend was dat die voormalige Israelse minister van buitelandse sake, Avigdor Lieberman, alle Jode gewaarsku het om Suid-Afrika om hul eie veiligheid te verlaat. Nkoana-Mashabane het toe luidens berigte aan vakbondlede gesê die regering se amptelike beleid is om geen verhouding met Israel op ministeriële vlak te hê tot daar nie vordering gemaak is met die Palestynse vredesproses en tot dié mense se probleme nie opgelos is nie.
Sy het voorts gesê die Palestynse mense se ‘struggle’ is ook Suid-Afrika se ‘struggle’.
Nou blyk dit die DA het sy gewig by die ANC ingegooi oor die land se amptelike houding teenoor Israel. Volgens adv. Alberts verg dit net ‘n klein sprong vanaf bloot anti-Joodse sentiment tot ‘n veldtog waarin die Joodse minderheid binne Suid-Afrika met die goedkeuring van die DA ook geteiken word.
“Die uitlatings van Nkoana-Mashabane dat geen senior regeringsverteenwoordigers Israel amptelik mag besoek nie, kom effektiewelik neer op sanksies teenoor Israel.
“VF Plus staan ‘n tweestaat-oplossing en die staking van geweld tussen Israel en die Palestynse gebiede voor. Dit sluit selfbeskikking vir die Palestynse gebiede in en die onafhanklikheid van Israel.
“Die DA sal aan die Joodse gemeenskap moet verduidelik wat hulle werklike standpunte oor Israel is. Dit blyk dat hierdie die vierde skielike beleids-ommekeer van die DA kan wees na die dubbele bolmakiesie oor ekonomiese rasse-transformasie en die grondkwessie. Minderhede sal hiervan kennis moet neem aangesien die ware opposisie nie meer by die DA lê nie,” sê adv. Alberts.
Van die resolusies wat aangeneem is en waarteen die DA geen beswaar aangeteken het nie, sluit in volle militêre, ekonomiese en politieke sanksies teen Israel, die skep van spesiale howe om Israelse burgers en Suid-Afrikaners wat in die Israelse weermag dien te verhoor vir oorlogsmisdade, en die stop van alle finansiële transaksies met Israeliese besighede.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403