Alice Maree se lewe is deur haar verkragter gesteel, het Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat, kort voor haar begrafnis uit die NG Moedergemeente op Theunissen gesê. Sy was ‘n pragtige jong dame met haar hele lewe voor haar toe haar verkragter, wat op parool was vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, haar aangeval en haar lewe onherroeplik verander het.
Van Niekerk het die departement van korrektiewe dienste se verskoning dat hulle en die SAPD se rekenaarstelsels nie gesinkroniseer is nie as ‘n skandelike en belaglike verskoning vir hulle nalatigheid afgemaak. Hulle is aandadig aan die Maree-gesin se pyn en lyding en behoort sivielregtelik vervolg te word.
“Strenger parool- en borgvoorwaardes behoort toegepas te word, want hierdie is nie ‘n geïsoleerde geval nie.
“Daar is al presedente geskep oor gevangenes wat op parool vrygelaat word en dan bloot voortgaan om misdade te pleeg. Suid-Afrika het immers een van die hoogste heroortredingskoerse ter wêreld. Waar gaan dit eindig as die departement wat verantwoordelik is vir die voorkoming van sulke gevalle bloot hulle skouers optrek en die skuld op iets of iemand anders pak?”
Van Niekerk het namens die VF Plus sy medelye met die Maree-gesin, Alice se verloofde, CJ Blumenthal, haar familie, vriende en kollegas betoon en hulle sterkte toegewens in hierdie moeilike tyd.
Kontakbesonderhede: 083 743 2042 / 082 674 6670