fbpx
Vryheidsfront Plus

Verkeersbeamptes van Matlosana “observeer” net verkeerschaos op N12 in Klerksdorp

 

Verkeersbeamptes van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) het gister vanuit hul minibus sit en toekyk hoe die verkeer op die N12, wat deur Klerksdorp beweeg, in chaos verval sonder om ‘n vinger te lig.

Die situasie het ontstaan toe ‘n groot gedeelte van die pad gistermiddag gesluit is vir verkeer om herstelwerk aan die pad te doen.

Die N12 word tans herstel nadat die VF Plus in April vanjaar ‘n versoek gerig het aan die minister van vervoer, Fikile Mbalula, om dringend in te gryp om te keer dat die pad op plekke onherstelbaar verval.

Die N12 word soos versoek herstel in Wolmaransstad, Klerksdorp en Potchefstroom.

Die munisipale departement vir gemeenskapsveiligheid het duidelik geen samewerking verleen aan Sanral, wat die pad herstel, om verkeersbeheer toe te pas of die verkeer op alternatiewe roetes te herlei nie.

Die VF Plus het gaan ondersoek instel en die verkeersowerhede kontak en versoek dat beamptes ontplooi word om die situasie te hanteer.

Verkeersbeamptes het wel later met spitstyd opgedaag, maar bloot vanuit hul minibus die verkeerschaos gadegeslaan.

Motors en swaarvoertuie was telkens byna in ongelukke betrokke ten aanskoue van die beamptes.

By navraag van die VF Plus het hulle beweer dat hulle die situasie net moet “observeer”.

Die VF Plus het vandag formeel klagte ingedien by die munisipale owerhede met die oog op dissiplinêre stappe teen die betrokke beamptes en die verantwoordelike amptenare.

Dit is skokkend dat beamptes van die departement van gemeenskapsveiligheid oënskynlik geen agting het vir die welsyn van die gemeenskap of hul plig om die publiek te beskerm en te dien nie.

Hierdie voorval is tekenend van die gebrek aan dissipline en diensvaardigheid wat onder amptenare van die ANC-beheerde Matlosana plaaslike munisipaliteit heers.

Matlosana se inwoners verdien beter as die ANC.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.