(Begrotingsdebat in Oos-Kaapse wetgewer: Basiese onderwys)
Volgens die LUR vir basiese onderwys, Fundile Gade, is die onderrig van leerders ‘n topprioriteit vir die Oos-Kaapse provinsiale regering.
Maar indien gekyk word onder watter toestande van die Oos-Kaap se leerders hul onderrig ontvang, is hierdie blote praatjies.
Handboeke en ondersteuningsmateriaal word laat afgelewer by skole – indien ooit – en skoolinfrastruktuur soos ablusiegeriewe, water- en elektrisiteitstoevoer laat veel te wense oor en is ‘n klap in die gesig van nie net leerders nie, maar die hele provinsie.
Kinders is veronderstel om hul skooldae te geniet, maar vir baie is dit onder die huidige omstandighede ‘n straf om skool toe te gaan.
Daar is geen twyfel nie dat die Oos-Kaapse departement van onderwys die huidige en toekomstige geslagte wat die provinsie moet vorentoe neem, in die steek laat.
Die huidige begroting van R38 miljard kan verdubbel word en dit sal geen verskil maak nie aangesien die agterstand met die verbetering van die infrastruktuur so groot is dat dit nog miljarde en baie jare sal neem om op te vang.
Die belofte om 77 nuwe skole te bou, is onverantwoordelik omdat die bestaande skole se infrastruktuur die afgelope 20 jaar nie onderhou is nie.
Volgens die LUR moet die leerders van die Oos-Kaap se prestasie vergelyk word met die prestasie van leerders van lande wat op ‘n soortgelyke vlak van ontwikkeling is.
Vir die VF Plus is dit nie aanvaarbaar nie en ‘n belediging vir leerders en opvoeders wat daarna mik om met die beste onderwysstelsels in die wêreld mee te ding.
Onder die ANC-regering sal leerders nooit hul volle potensiaal bereik nie.
Die Oos-Kaapse leerders en opvoeders verdien beter.


