(Debat in parlement: Ongevallekommissaris-wysigingswetsontwerp)
Die grootste swakplek by die Vergoedingsfonds wat sy haglike geldsake en dienslewering aanbetref, is swak bestuur en 'n totale gebrek aan die politieke wil om iets daaraan te doen met die situasie wat jaar na jaar dieselfde bly.
Daar is aanvanklik gepoog om deur ‘n wetswysiging weg te doen met derdeparty-administrateurs wat die administratiewe las op mediese diensverskaffers verlig en indirek ‘n belangrike waghondrol vervul oor die bedrywighede van die Fonds.
Die voorgestelde wysiging van Artikel 73 van die Ongevallekommissariswet is daarop gemik om ontslae te raak van derdeparty-administrateurs deur die sessie van mediese diensverskaffers se eise teen die Fonds aan hierdie derdepartye onwettig te maak. Derdeparty-administrateurs skroom nie om die Fonds verantwoordbaar te hou deur middel van regsaksie nie en juis daarom bestaan die vermoede dat die departement van arbeid en werkskepping van hierdie administrateurs ontslae wil raak.
Alhoewel die aanvanklike wysiging wat die sessie van mediese eise onmoontlik gemaak het gewysig is om dit wel toe te laat moet derdeparty-administrateurs nou by die Fonds registreer onderhewig aan ñ tans onbekende kriteria. Dit is irrasioneel en oorregulerend van aard.
Die Vergoedingsfonds bestuur sowat R60 miljard en ontvang jaarliks sowat R9 miljard aan werkgewersbydraes. Tog het hy nou sewe agtereenvolgende gekwalifiseerde ouditverslae van die ouditeur-generaal (OG) ontvang en niemand word aanspreeklik gehou nie. Miljoene rande is verskuldig aan eise van werknemers en mediese praktisyns.
Die wysiging om huiswerkers ook in te sluit onder die beskerming wat die wet bied word verwelkom, maar kommer bestaan oor vermoë van die Fonds om addisionele eise te verwerk as hulle reeds so sukkel om bestaande eise te administreer.