Die VF Plus neem kennis van lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, se aanstelling van twee adjunk- en vyf distrikskommissarisse om misdaad in die provinsie te beveg.
Alhoewel die VF Plus enige poging verwelkom om misdaad te bekamp, meen die party dat daar ‘n groter behoefte bestaan vir meer en beter opgeleide polisielede op voetsoolvlak en nie meer senior aanstellings nie.
Die VF Plus het Gauteng se polisiekommissaris verskeie kere gewaarsku dat misdaad slegs bekamp kan word met genoeg goed opgeleide polisielede en toerusting. Op die oomblik is dit nie die geval nie.
Misdaadsyfers wat die afgelope naweek bekend gemaak is, toon ‘n styging van 77,3% in moord gedurende die tydperk van April tot Junie vanjaar in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Nog ‘n kommerwekkende aanduiding is dat verkragting in dieselfde tydperk met 74,3% gestyg het en poging tot verkragting met 102,9%.
Die stryd teen misdaad sal nie gewen word deur ondeurdagte besluite nie. ‘n Uitgebreide aksieplan en die uitvoering daarvan is nodig om die ongebreidelde toename in misdaad hok te slaan.