Die minister van verdediging, Thandi Modise, se antwoorde op parlementêre vrae van die VF Plus oor dié departement se kontrakte met Kuba, werp steeds geen lig op enige werklike waarde of voordeel wat die Suid-Afrikaanse weermag daaruit gekry het nie.
Die departement se Thusano-projek is sedert sy aanvang in 2012 in omstredenheid gedompel weens die miljarde rande wat aan Kuba betaal word vir die sogenaamde instandhouding van weermagvoertuie.
Dít terwyl Suid-Afrika oor meer as genoeg plaaslike kundigheid beskik om sulke onderhoudswerk te doen teen ‘n aansienlik laer koste.
Dit is sterk te betwyfel of daar enige verbetering in die stand van die weermag se voertuie en toerusting is wat sulke uitgawes regverdig.
Die minister se antwoord is bloot dat die kontrak eers in Januarie 2025 verstryk en dat die departement intussen die hoof- en subkontrakte sal hersien.
Sy meld ook dat die departement besig is om maniere te vind om die kontrak in lyn te bring met regulatoriese voorskrifte.
Dit opsigself dui op ‘n erkenning van skynbare onreëlmatighede wat sedert 2012 voortduur en nog nooit reggestel is nie.
Die ANC-regering se volharding om miljarde rande se belastinggeld te vermors op Kubaanse welsynsprojekte terwyl die Suid-Afrikaanse weermag ten gronde gaan, is ‘n skande en ‘n belediging vir alle Suid-Afrikaners.
Die VF Plus sal voortgaan om te stry teen die ANC-regering se blatante vermorsing van Suid-Afrikaners se swaarverdiende belastinggeld.
Suid-Afrika verdien beter as die ANC.