fbpx
Vryheidsfront Plus

Vanderkloof en Keurtjieskloof in Renosterberg-munisipaliteit: Nuwe strafkrag lei tot regstappe

Vanderkloof, die skilderagtige dorpie op die oewer van Suid-Afrika se tweede grootste dam met dieselfde naam, ly weereens onder strafkrag weens wanbetaling aan Eskom terwyl sy inwoners van die beste en gereeldste betalers vir dienste in die munisipaliteit is.

Dit volg kort na 'n nuwe munisipale raad vir die Renosterberg-plaaslike munisipaliteit (Petrusville, Philipstown, Van der Kloof) op 11 November verkies is. Sakelui in die dorp het op spoedige regstappe besluit met die VF Plus wat ‘n leidende rol speel, aangesien die uitgerekte politieke proses klaarblyklik nie die gewenste resultaat lewer nie.

Deel van die probleem is 'n onbetaalde Eskom-rekening van meer as R80 miljoen, wat tevore tot "strafkrag" in Vanderkloof en Keurtjieskloof gelei het. Dit is wanneer interne beurtkrag toegepas word en elke rekeninghouer slegs agt ure per dag kragtoevoer het.

Hierdie rondte gaan dit volgens berigte veroorsaak dat Vanderkloof slegs 3 ure water per dag sal ontvang, aangesien water met elektriese krag gepomp en gesuiwer word.

Die bittere ironie vir inwoners van Vanderkloof en Keurtjieskloof is dat hulle betalingskoers die hoogste in die munisipaliteit is.

Toerisme is 'n belangrike deel van Vanderkloof se ekonomie. Krag- en watertekorte lei nie net tot direkte skade vir die dorp se sakesektor nie, maar ook tot vermindering in toerisme – na 'n jaar van Covid-19-inperking wat toerisme reeds geknou het. Dit is realisties om te beweer dat hierdie optrede die voortbestaan van die dorp kan bedreig indien daadwerklike stappe nie geneem word nie.

Daadwerklike aksie is presies waarmee Lorna Myburgh, sakevrou en takvoorsitter van die VF Plus in Vanderkloof, besig is. Namens 'n groep sakelui op die dorp, is 'n regsaksie teen Eskom geloods. Die kragreus het na bewering nie die nodige stappe gevolg voor kragtoevoer verminder is nie.

Verder moet die nuutverkose munisipale raad voor stok gekry word, omdat die nodige ooreenkomste met Eskom nie betyds aangegaan is nie. Hierdie versuim ondermyn vertroue in die raad se toekomstige optrede.

Die VF Plus is ook besig om sy klag by die Menseregtekommissie (MRK) op te volg. Vroeër is 'n klag deur die party by die MRK ingedien omdat inwoners van Vanderkloof en Keurtjieskloof van basiese dienste ontneem word, ten spyte daarvan dat hulle daarvoor betaal en dat die tegniese vermoë om dit te lewer, bestaan.

Die klag is op ys geplaas toe die munisipale raad ontbind is, maar dit blyk nou dat die MRK dit moet heraktiveer.

As langtermynoplossing moedig die VF Plus inwoners van Vanderkloof en ander dorpe in die land aan om in hul eie kragbehoeftes te voorsien. Sonpanele kan die munisipale rekening drasties besnoei en help keer dat die Eskom-rekening verder opbou. Indien dit met batterye gekombineer word, is dit duurder maar bied veiligheid teen onderbrekings.

Die staat is toenemend besig om te faal, met die duidelikste gevolge daarvan op munisipale vlak. Burgers se enigste keuse is om hulle teen die falende staat beskerm.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.