fbpx
Vryheidsfront Plus

Vandag is D-dag vir voorleggings oor uitstel van 27 Oktober-munisipale verkiesing

Ingevolge ‘n direktief van die Grondwethof is vandag die laaste dag waarop partye en ander belanghebbendes voorleggings by dié hof kan indien ná die aansoek van die Verkiesingskommissie (OVK) om die kiesdatum van 27 Oktober vanjaar te laat uitstel na ’n latere datum.

Die VF Plus is gekant daarteen dat die Grondwet oortree word deur die datum vir die plaaslike regeringsverkiesing uit te stel na ’n ander datum soos wat duidelik in die Grondwet bepaal word.

Die mening van die party is dat die Grondwethof nie die bevoegdheid het om sodanige uitstel te gee nie en indien dit wel gebeur, sou dit ’n gevaarlike presedent en tendens skep vir die toekoms. Dit sou beteken dat die Grondwethof in die toekoms op sy eie verdere oortredings van die Grondwet kan toelaat.

Die VF Plus steun daarom die instellings wat die aansoek van die OVK om die kiesdatum aan te skuif teenstaan.

Dit is duidelik dat die OVK se beplanning vir die verkiesing nie reg gedoen is nie en hierdie skuif te elfder ure veroorsaak nou vir sommige politieke partye ernstige probleme en ongerief wat uiteindelik sleg is vir die demokrasie in Suid-Afrika.

‘n Voorbeeld is dat die naweek waarop landwye registrasies gedoen moes word nie plaasgevind het nie. Hierdie geleentheid om te registreer behoort wel gegee te word ongeag daarvan of die verkiesing op 27 Oktober of later gaan plaasvind.

Baie mense kan die geleentheid om aan die verkiesing deel te neem ontneem word indien daar nie nog ’n spesiale geleentheid is om te registreer nie.

Munisipale dienste in Suid-Afrika onder ANC-beheer het in duie gestort en die kiesers het die grondwetlike reg om binne die bepalings van die Grondwet hierdie jaar ’n geleentheid te kry om van swak raadslede ontslae te raak en nuwe raadslede te verkies om seker te maak dat dienste gelewer word.

‘n Grondwet is die kern en behoud van ‘n land soos Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie en dit sou geskend word en sy krag verloor indien dit sonder meer deur ’n hof, al is dit die Grondwethof, verander kan word.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.