Die VF Plus veroordeel ten sterkste ‘n voorval waar ‘n EFF-parlementslid, Marshall Dlamini ‘n polisieman tydens die staatsrede verlede Donderdag in die parlementsgebou aangerand het.
Die polisie word by die parlement ontplooi in opdrag van senior polisiebestuur om ‘n beskermingstaak te verrig en die aanranding van die betrokke polisielid, ao. Johan Carstens, kom daarop neer dat die EFF die gesag van die polisie uitdaag en ondermyn.
Die VF Plus sal die saak volg om seker te maak daar word wel strafregtelik opgetree teen Dlamini. Die party sal ook ‘n amptelike klag by die parlement se etiekkomitee indien teen Dlamini omdat sy gedrag totaal onaanvaarbaar is.
Parlementslede moet eerder lede van die polisie ondersteun en bemoedig om hul werk behoorlik te doen. Die polisiemanne is juis daar om parlementslede te beskerm.
EFF-bewerings dat daar ‘n komplot was teen sy leier, Julius Malema, en dat die aanval om dié rede plaasgevind het, is ‘n totale versinsel. Malema het ‘n rekord van vals bewerings oor beweerde komplotte teen sy lewe en selfs van ontploffings by sy huis.
Een voorbeeld was in 2011 (Sien aangehegte mediaberig gedateer 15 September 2011) toe die destydse minister van polisie, Nathi Mthethwa, in antwoord op ‘n parlementêre vraag van die VF Plus (dr. Pieter Groenewald), ontken het dat daar bomdreigemente was teen Malema, toe nog ANC-jeugleier.
Dit is daarom bekend dat die EFF en Malema graag voorgee dat sy veiligheid bedreig word in ‘n poging om aandag te soek en om dit, soos in die jongste aanrandingsvoorval, as verskoning te gebruik vir sy lede se wangedrag.
Die EFF moet eerder in aanloop tot die algemene verkiesing in Mei vanjaar aan sy volgelinge probeer verduidelik hoe hy sy onrealistiese beloftes gaan uitvoer eerder as om op bedenklike wyses soos hierdie die aandag te probeer trek.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216