Die bewerings van Themba Maseko, voormalige direkteur-generaal van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS) rakende pres. Jacob Zuma en die Guptas, is die eerste konkrete bewys van ‘n korrupte verhouding tussen Pres. Zuma en die Guptas, en die VF Plus het die Valke vandag versoek om dit ook te ondersoek, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.
Mnr. Maseko het Sondag gesê pres. Jacob Zuma het hom in 2010 kort voor die bekendstelling van die Guptas se koerant, The New Age, gebel om seker te maak hy gaan met die Gupta-broers vergader.
Ten tyde van dié vergadering het die Guptas hom glo gevra dat grootskaalse regeringsadvertensies na dié koerant gekanaliseer moes word. Hy het glo geweier en is ‘n jaar later ontslaan. Die berig het Sondag in die Sunday Times verskyn, maar is intussen vry algemeen in die media gerapporteer.
Volgens dr. Mulder het die VF Plus die Valke versoek om die ondersoek te laat saamloop met die ondersoek wat dié eenheid reeds begin het teen twee van die Gupta-broers, Ajay en Atul, asook mnr. Duduzane Zuma, seun van pres. Zuma.
“Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, beskuldig die Guptas nou van ‘n “staatskaping” en hy soek inligting daaroor. Hierdie saak kan egter nie deur die ANC alleen ondersoek word nie omdat mense in die ANC oënskynlik betrokke is. Daarom is die Valke-ondersoek so belangrik om deursigtigheid te bewerkstellig.
“Vir die VF Plus is dit duidelik dat die Guptas nie alleen tot enige sodanige ‘staatskaping’ in staat was nie, en dat hulle hiervoor hulp van binne die regering nodig gehad het. Hierdie bewering van mnr. Maseko is daarom baie belangrik in die Valke-ondersoek,” sê dr. Mulder.
NAVRAE: 083-419-5403 / 082-550-7795