Die VF Plus-jeug het vandag ‘n konsultatiewe vergadering bygewoon oor standbeelde op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Die VF Plus-jeug in die Vrystaat verwelkom die gesprek.
“Dit is nodig dat ons as jeug, maar ook as die toekomstige leiers van Suid-Afrika, gesprek sal voer oor die belangrikheid van ons geskiedenis – wit, bruin en swart – binne die Suid-Afrikaanse konteks,” het me. Tammy Breedt, Vryheidfront Plus-jeugleier in die Vrystaat gesê. Breedt het bygevoeg dat dit egter belangrik is om verantwoordelik op te tree wanneer daar oor hierdie sake gedebatteer word.
Gedurende Maart 2010 het prof. Jansen reeds in ‘n weeklikse nuusbrief die gevoel oor standbeelde – oud en nuut – by Kovsies, oud-Kovsies, organisasies en instansies verbonde aan die UV getoets. Die VF Plus het destyds ‘n skrywe aan Jansen gerig waar daar gepleit word om nie die geskiedenis te probeer uitwis nie, maar eerder by te voeg en sodoende die gesamentlike erfenis van die Vrystaat uit te bou.
Die VF Plus-jeug toe en die VF Plus-jeug nou is onomwonde dat standbeelde behoue moet bly en dat geskiedenis nie eensydig moet wees nie. Standbeelde dien as ‘n herinnering van die verlede, maar ook as ‘n sagte waarskuwing vir die toekoms. Alle aspekte van die geskiedenis en historiese figure bevat goed en sleg. Om slegs te verwyder of te vervang dra nie tot nasiebou en sosiale samewerking by nie.
Die standbeeld van president MT Steyn wat voor die hoofgebou van die UV staan, is deur die studente van die eertydse Grey Universiteitskollege befonds en opgerig, en nie deur die staat of die universiteit nie. Met die inhuldiging van die standbeeld was dit mev. Steyn se wens dat hierdie monument 'n blywende besieling tot onwrikbare toewyding aan die vryheidsgees van Suid-Afrika moet wees. Pres. Steyn het sy lewe gewy aan die stryd teen Britse onderdrukking en imperialisme.
Die VF Plus-jeug vra dat alle beelde behou word en dat daar eerder nog verteenwoordigende simbole en figure van die geskiedenis aangebring word. Die VF Plus-jeug eis dat die UV die standbeelde sal beskerm teen vandalisme en voortydige optrede.
Die VF Plus-jeug sal verder met die UV-bestuur in gesprek tree om sodanige voorstelle te maak ter behoud van almal se taal, kultuur en herkoms. Laat ons die verlede eer en respekteer en saambou aan 'n beter toekoms vir almal.
Tammy Breedt
082 490 6663