Hoe meer die staat die arbeidsmark probeer reguleer, soos met veranderinge aan die Wet op Arbeidsverhoudinge wat arbeidsmakelaars effektiewelik uit die arbeidsmark dwing, hoe groter is die prys wat Suid-Afrika aan werkloosheid betaal, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.
Luidens ‘n berig in die Business Day Live het navorsing van die Free Market Foundation, wat onder 500 van die grootste arbeidsmakelaars in die land gedoen is, bevind dat 254 000 mense as ‘n direkte gevolg hiervan hul werk gaan verloor.
Maatskappye het aangedui dat 192 000 poste teen 31 Maart (gister) nie meer gevul gaan word nie, met ‘n verdere 62 000 teen die einde van April.
Adv. Alberts sê een van die hoofredes hiervoor is ‘n wysiging wat bepaal dat tydelike werkers, kontrakwerkers en werkers wat deur ‘n makelaar in diens geplaas is, ná ses maande dieselfde vergoeding en diensvoordele as permanente werkers moet kry.
Hy sê dit beteken dat minder werkers aangestel kan word wat ingrypende implikasies vir ‘n maatskappy se produksie kan inhou en dat daar noodwendig nie meer van arbeidsmakelaars se dienste gebruik gemaak sal word nie.
“Werkgewers sal mettertyd van die poste vul met eie aanstellings, maar wat nou gebeur beteken nietemin dat 254 000 broodwinners weens die staat se inmenging teen die einde van hierdie maand nie ‘n inkomste gaan hê nie.
“Meganisering, veral op gebiede soos landbou en in mynbou, word toenemend gesien en toegepas as die enigste manier om die ANC-regering se drakoniese arbeidswetgewing te omseil.
“Die meeste van hierdie kortsigtige arbeidswete het dit net ten doel om mense wat reeds werk het te beskerm en te bevoordeel terwyl dit daartoe lei dat werkloosheidsyfer by die dag toeneem,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403