fbpx
Vryheidsfront Plus

Suid-Afrika kan onbevoegdheid van energieminister Tina Joemat-Pettersson nie langer duld nie

Die minister van energie, Tina Joemat-Pettersson, gaan roekeloos om met haar portefeulje en veral gesien teen die agtergrond van Suid-Afrika se kragkrisis kan haar onbevoegdheid nie langer geduld word nie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor energie.

Vroeër vandeesmaand was Joemat-Pettersson sonder enige verskoning afwesig van ‘n belangrike parlementêre portefeuljekomitee waar sy ‘n voorlegging oor die regering se vyfpunt-energieplan aan parlementslede moes doen. Haar adjunkminister, Thembi Majola, was ook nie teenwoordig nie.

Nou het sy ook ‘n tweede keer die spertyd gemis (op 31 Maart 2015) om te begin met die program om onafhanklike kragvervaardigers by die kragverskaffingsnetwerk te betrek.

Adv. Alberts sê ingevolge die vyfpuntplan is dit van ‘kritieke belang’ dat onafhanklike verskaffers van hernieubare en steenkool-opgewekte krag betrek word om krag aan die netwerk te voorsien. Die proses vir die toeken van tenders vir steenkool- en hernieubare kontrakte moes reeds einde verlede jaar begin het.

Die spertye is nie gehaal nie en dit is toe tot 31 Maart vanjaar uitgestel wat nou weer gemis is. Dit is onbekend wanneer die volgende spertyd nou is.

“Joemat-Pettersson het ‘n geskiedenis van onbevoegdheid. In haar vorige hoedanigheid as minister van landbou, bosbou en visserye moes sy in ’n stadium selfs gedagvaar word om portefeuljekomitees by te woon.

“Die verskil tussen haar huidige en vorige poste is dat Suid-Afrika se kragkrisis kritiek is en die land kan nie ‘n onbevoegde minister in dié uiters belangrike portefeulje bekostig nie. Die VF Plus eis daarom dat sy summier afgedank en met ‘n bevoegde persoon vervang word,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.