fbpx
Vryheidsfront Plus

Tweede lesingsdebat in die parlement: Nasionale Minimumloon-Wetsontwerp – ANC erken deur minimumloon hy het ekonomies misluk

Die beplande instelling van ‘n minimumloon in Suid-Afrika is ‘n erkenning van die ANC-regering dat hy klaaglik misluk het om die land se ekonomie voldoende te laat groei om armoede en werkloosheid uit te roei.

Weens die hoë vlakke van armoede in die land is daar groot empatie met miljoene mense wat benede die broodlyn leef, en dit sou onmenslik wees om jou blind te staar teen dié lyding van werkloses, vroue, kinders en diere. Die daaglikse protes-aksies regoor die land is simptomaties van hierdie haglike situasie.

Hierdie lyding van mens en dier moet voor die deur van die ANC-regering gelê word. Indien hy in sy tyd as regering ‘n klimaat geskep het vir jaarlikse ekonomiese groei van sowat 6%, sou miljoene werkgeleenthede geskep gewees het en sou die situasie tans anders daar uitgesien het.

Die skade wat die ANC-regering se beleid aan die land se ekonomie aangerig het, is omvangryk. Talle werkskeppings-geleenthede het verlore gegaan en baie waarde is vernietig deur ondernemings wat eenvoudig hul deure gesluit het en beleggers wat hul geld elders gaan belê het.

Tydens die openbare verhore oor die Beleggersbeskermingswet, het die Amerikaanse Handelskamer aangedui dié wet sal verhinder dat triljoene dollar Suid-Afrika binnestroom. Die ANC-regering het nogtans die wet deur-gestoomroller en vandag is dit bekend dat Suid-Afrika se handelsbalans negatief is met min buitelandse belegging.

Die VF Plus is daarom skepties oor president Cyril Ramaphosa se poging om beleggings van ‘n 100 miljard dollar na Suid-Afrika te lok. Hoe gaan hy dit regkry met beleid waaroor talle internasionale handelsvennote groot bekommernis uitgespreek het, soos SEB, hoë belasting en onteiening sonder vergoeding?

Talle probleme wat te make het met ongelykheid sal opgelos word indien groter ekonomiese vryheid toegelaat word. ‘n Goeie voorbeeld is die ongekende ekonomiese groei wat Amerika tans ervaar waar maatskappywinste 22% beter is as verlede jaar en beleggings gestyg het met 19%. Die rede daarvoor is die nuwe administrasie se laer belastingkoers en deregulasie.

‘n Minimumloon mag daarom edel klink, maar dit sal die probleem van ongelyk eerder vererger as verbeter. Daar sal dringend na maniere gesoek moet word om die ekonomie te laat groei om te sorg vir werkloses wie se getalle ongetwyfeld aangevul sal word deur ‘n minimumloon.

Die snelste manier om dit te vermag sal wees om weg te doen met die regering wat hierdie situasie oor 24 jaar geskep het.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.