Die afgelope tussenverkiesings in Mpumalanga het getoon dat die politieke landskap in Suid-Afrika besig is om te verander en dat sterker koalisies tussen opposisiepartye die ANC voortaan deeglik gaan opponeer.
Hierdie koalisies gaan opposisiepartye in staat stel om die leiding op nasionale, provinsiale en plaaslike vlakke te neem om sodoende die ANC te verhinder om met ‘n volstrekte meerderheid te regeer.
Die uitslag van die tussenverkiesing in Bethal (Wyk 28) op 9 Oktober onderstreep hierdie stelling. Die VF Plus het slegs ses stemme minder as die ANC gekry. Die ANC het die wyk met 36% van die uitgebragte stemme ingepalm. Bethal was voorheen ‘n DA-beheerde wyk.
In Lydenburg het die DA ‘n naelskraapse oorwinning behaal met 48% van die stemme (teenoor 81% in 2016). Die VF Plus se ondersteuning daar het van 8% tot 33% gegroei. Hierdie uitslae toon duidelik dit raak toenemend moontlik vir koalisies om die ANC te stuit.
Die VF Plus glo dat ‘n ware magsverskuiwing net kan plaasvind wanneer kiesers volgens hul oortuiging stem vir ‘n party met wie se waardes hul saamstem.
Dit is nou besig om te gebeur en die publiek word nie meer geflous deur die leuen dat ‘n stem vir ‘n ander party as die amptelike opposisie ‘n vermorste stem is nie.
Die VF Plus het groot welslae tydens die nasionale verkiesing op 8 Mei behaal, en die sukses wat tydens die tussenverkiesings op 9 Oktober behaal is, toon dat hierdie tendens van groei voortduur tot voordeel van de gewone kiesers wat nie sy waardes en beginsels wil prysgee nie.
Kontaknommer: 084-652-9164


