Die VF Plus is erg bekommerd oor die ouditeur-generaal (OG) se 2024/25-verslag wat die ineenstorting van finansiële bestuur, aanspreeklikheid en dienslewering onder die huidige ANC/ActionSA/EFF-koalisie in Tshwane blootlê.
Die verslag wys op:
• Verkeerde waardasie van bates wat finansiële state opgeblaas het.
• Onderberaming van voorwaardelike verpligtinge met meer as R4,3 miljard.
• Ineenstorting van gevolgbestuur wat onreëlmatighede ongestraf laat.
• Swak interne beheer en prosesse wat aanspreeklikheid ondermyn.
Die voorsitter van die oudit- en risikokomitee beklemtoon dat gebrekkige aankopebestuur en die afwesigheid van behoorlike kontrolestelsels die metro se finansiële dissipline en deursigtigheid ernstig benadeel en die risiko van korrupsie verhoog.
Net so ontstellend is die verval in basiese dienslewering:
• Onwettige kragverbindings, kabeldiefstal en substasie-vandalisme wat inwoners sonder betroubare elektrisiteit laat en inkomste verminder.
• Waterlekkasies en sanitasie-agterstande wat informele nedersettings afhanklik van chemiese toilette hou.
• Behuisingsvertraging en titelakte-agterstande wat duisende gesinne sonder sekere behuising laat.
• Onwettige storting en swak afvalbestuur met onvoldoende wetstoepassing.
Die vordering wat gemaak is onder die vorige veelparty-regering, waarvan die VF Plus deel was, het die huidige koalisie binne nege maande uitgewis.
Gevolgbestuur en aanspreeklikheid het tot stilstand gekom terwyl senior bestuur onder druk geplaas word om met die koalisie se politieke agenda te belyn – ’n stap wat professionele onafhanklikheid verder ondermyn.
Nog ’n groot bron van kommer is die koalisie se besluit om R2 miljard aan salarisverhogings en agterstallige betalings toe te ken sonder om dit, soos die vorige koalisie, eers in die arbeidshof te laat toets.
Hierdie roekelose stap plaas ’n ondraaglike las op die metro se finansies en voorspel ’n selfs meer verwoestende OG-verslag in die volgende boekjaar.
Die inwoners van die Tshwane-metro verdien ’n regering wat hul belange beskerm, nie een wat wanbestuur en korrupsie toesmeer nie.
Die VF Plus sal aanhou veg vir skoon regering, streng aanspreeklikheid en deursigtige bestuur van openbare fondse. Die huidige agteruitgang is onaanvaarbaar, en die VF Plus sal nie toelaat dat Tshwane nog verder verval nie.
Met die komende plaaslike regeringsverkiesing het inwoners die mag om betroubare partye met ’n bewese rekord van skoon en regverdige bestuur te kies. Die VF Plus is só ’n party.


