Die VF Plus beskou die besluit van die minister van sport, kuns en kultuur, Gayten McKenzie, oor naamsveranderinge in die Oos-Kaap, as ’n duidelike bewys van verkeerde prioriteite in die besteding van beperkte openbare fondse.
Dieselfde departement wat nou 21 geografiese naamsveranderings goedgekeur het – insluitend duur veranderinge soos Oos-Londen na KuGompo City en Graaff-Reinet na Robert Sobukwe Town – was nie bereid om die nodige fondse te verskaf vir die aanbieding van die internasionale Corona Open J-Bay-branderplankkompetisie in Jeffreysbaai nie.
Hierdie wêreldklas-geleentheid, die enigste Championship Tour-kompetisie op die Afrika-vasteland, bring jaarliks ’n groot ekonomiese inspuiting vir die Oos-Kaap deur toerisme, werkskepping en internasionale blootstelling.
Die kansellasie daarvan vir 2026 is ’n direkte gevolg van die departement se weiering om die vereiste befondsing te verskaf.
Terwyl miljoene rande bestee word aan simboliese naamsveranderings wat gemeenskappe verdeel en administratiewe kostes opstoot (soos nuwe naamborde, kaarte, dokumentasie en bemarking), word ’n bewese ekonomiese drywer soos die J-Bay Open opgeoffer.
Die VF Plus sien hierdie besluit as deel van ’n breër patroon waar ideologie en simboliese transformasie bo praktiese ekonomiese groei en werkskepping gestel word.
Die VF Plus bevraagteken ook die geldigheid van die sogenaamde proses wat as regverdiging vir hierdie naamsveranderings aangevoer word. Die meeste inwoners was duidelik daarteen gekant, en die proses weerspieël nie die wil van die gemeenskap nie.
Die VF Plus sal stappe neem om seker te maak dat hierdie stemme gehoor word en dat die departement aanspreeklik gehou word vir die wyse waarop openbare fondse aangewend word.
In ’n tyd van hoë werkloosheid, armoede en ’n kwynende ekonomie kan Suid-Afrika dit eenvoudig nie bekostig om fondse te mors op omstrede naamsveranderings nie, terwyl geleenthede wat werklike waarde toevoeg, verwaarloos word.
Die VF Plus eis dat die minister en die departement hul prioriteite heroorweeg en fokus op projekte wat tasbare ekonomiese voordele vir alle Suid-Afrikaners lewer – eerder as op duur, verdelende simboliek.


