Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Tshwane-metroraad se gebruik van regslui laat die wenkbroue lig

Die Tshwane-metro se volgehoue keuse van regslui wat gebruik word, laat die wenkbroue lig – veral wanneer die gebrekkige suksessyfer van dié regslui in ag geneem word.

Luidens ‘n verslag wat advokaat Job Malobola, die afdelingshoof van die regsraad van die metro saamgestel het, is daar tans meer as 3 473 onopgeloste regsgedinge hangende. Die finansiële blootstelling aan hangende verpligtinge, waarvan sommiges na 2008 terugdateer, beloop meer as R12,5 miljard.

Intussen bly die lewering van basiese dienste agterweë, terwyl miljoene rand op voorkombare regsaksies verspil word.

Hierdie verslag bevat nie bloot ’n lys van onafgehandelde regsgedinge nie, maar is ’n skreiende aanklag teen ’n stelsel wat verval het in finansiële wanbestuur, roekeloosheid en korrupsie. Kaderontplooiing het die regsafdeling in ’n voertrog vir polities verbonde raadgewers en kaders omskep.

Bekwaamheid is met lojaliteit vervang en aanspreeklikheid met strafloosheid.

Om die probleem te vererger, is die meeste regslui op die metro se prokureurspaneel in Johannesburg en Sandton gesetel, wat ongetwyfeld tot die metro se buitensporige regskoste bydra.

Wanneer die suksessyfer van lede op die paneel in ag geneem word, is dit teleurstellend en lei daartoe dat die professionaliteit en bevoegdheid van verskeie paneellede bevraagteken word.

Die party wil ook weet waarom bekwame, plaaslike regslui nie eerder aangestel word nie.

Die VF Plus sal voortgaan om in sittings van die artikel-79-komitee vir korporatiewe en gedeelde dienste kapsie te maak teen die aanstelling van onbevoegde regslui.

Voorts sal die party aandring op die aanstelling van bevoegde, interne regslui teen ‘n fraksie van die koste wat die paneel van regslui die metroraad tans uit die sak jaag.

Die tyd het aangebreek dat die stad sy regsstrategie heroorweeg, plaaslike kundigheid aanwend en aanstellings aan resultate koppel en nie aan geografiese ligging of politieke lojaliteit nie.

Die inwoners van die Tshwane-metro verdien beter.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.