Die Tshwane-metroraad het gister tydens ʼn raadsvergadering ʼn voorstel van die VF Plus rakende die mislukte osoonopwekking- en suiweringsfasiliteitsprojek (Ozone Generation and Dosing Facility project) aanvaar.
Dié projek, wat die metro R26 miljoen gekos het, behels die opgradering van elektriese- en meganiese komponente by die Rietvlei-watersuiweringsaanleg.
Die projek is in 2008 begin en is steeds nie voltooi nie.
In stede daarvan dat die volle bedrag afgeskryf word en die toerusting geskrap word, het die raad die VF Plus se voorstel aanvaar dat die verkwisting van openbare fondse deeglik ondersoek word deur die metro se openbare rekeningekomitee (MPAC) en waar moontlik die fondse verhaal.
Die party het verder voorgestel dat bruikbare komponente herwin en hergebruik word en beskadigde toerusting herstel word indien moontlik.
Hierdie besluit is ʼn oorwinning vir finansiële aanspreeklikheid en verantwoordelike bestuur.
Om miljoene rande van belastingbetalersgeld af te skryf sonder om alternatiewe te oorweeg om van die fondse te herwin, is onaanvaarbaar.