Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus sal koalisieverpligtinge in Swellendam nakom

Die VF Plus sal sy koalisieverpligtinge in die Swellendam-plaaslike munisipaliteit nakom, maar bly verbind tot skoon regering, ongeag waar of wie regeer.

Die Federale Dagbestuur (FDB) van die Vryheidsfront Plus het pas ‘n reeks vergaderings gehou om die onlangse gebeure in dié munisipaliteit, waar die VF Plus sedert 2021 saam met die DA in ‘n koalisie regeer, te bespreek.

Dit volg nadat die VF Plus se raadslid Juan van Schalkwyk ten gunste van ‘n mosie van wantroue in die voormalige DA-burgemeester, mnr. Francois du Randt, gestem het.

Die FDB het ‘n paneel aangewys wat hierdie aangeleentheid, sowel as die verhouding tussen die VF Plus en DA in verskeie koalisies sorgvuldig moet ondersoek.

Die FDB het ook besluit dat die VF Plus tydens die komende raadsvergadering waar ‘n burgemeester verkies gaan word, volgens die koalisie-ooreenkoms, vir ‘n DA-kandidaat sal stem.

Die VF Plus sal onder geen omstandighede toelaat dat die ANC aan bewind in Swellendam kom nie.

Die VF Plus is ook daartoe verbind om enige vorm van korrupsie en wanbestuur te stuit en verantwoordbaarheid en deursigtigheid te verseker.

Die party dring daarop aan dat alle bewerings van ongerymdhede teen mnr. Du Rand deeglik ondersoek word. Die VF Plus sal derhalwe ‘n mosie wat sodanige ondersoek van stapel stuur, binnekort in die raad ter tafel lê

‘n Omvattende lys van veertien ernstige bewerings wat ondersoek moet word sluit in:

  1. Dat die burgemeester onregmatig ‘n onafhanklike ondersoekverslag gewysig het; en
  2. Dat die burgemeester gepoog het om ‘n raadslid om te koop.

Dit is in die belang van elke inwoner en die stabiliteit van die huidige koalisie dat daar deursigtig omgegaan moet word met bewerings van hierdie aard.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die DA om sodanige mosie in die gees van deursigtigheid en verantwoordbaarheid te steun. Dit is ook belangrik dat die DA die implikasies van so ‘n ondersoek in ag sal neem met die nominasie van ‘n geskikte kandidaat vir die pos van burgemeester.

Die VF Plus bly verbind tot stabiele koalisieregerings in al die koalisies waarvan ons deel is waar goeie bestuur, verantwoordbaarheid en deursigtigheid seëvier.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.