Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Totale inperking: Tyd vir saamstaan in groot krisisuur het aangebreek

Die aankondiging van president Cyril Ramaphosa van ‘n nasionale inperking van die vryheid van beweging van mense in Suid-Afrika, is ‘n drastiese stap, maar die Covid 19-virus vereis drastiese stappe om ‘n rampspoedige verspreiding van die virus te voorkom.

Die weermag se toetrede tot die situasie beteken in effek ook dat die land in ‘n nasionale noodtoestand verkeer. Hierdie drastiese stappe is veral nodig weens die hoë voorkoms van HIV/Vigs en tuberkulose in Suid-Afrika waar mense se immuunstelsel reeds aangetas is.

Die VF Plus steun die stap want dit blyk ook die beste praktyk te wees in ander lande om lewensverlies te voorkom. Die party doen daarom ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te werk om die verspreiding van die virus ten alle koste te beperk.

Die VF Plus is bekommerd oor pres. Ramaphosa se eie erkenning dat die land se gesondheidsdienste nie in staat sal wees om ‘n groot uitbreking van die virus te hanteer nie en dit sal ‘n daadwerklike en totale krisis skep, ook vir diegene wat nie die virus onderlede het nie.

Die drie weke inperking tot om middernag, 16 April, hou ernstige gevolge in vir die ekonomie en sal werkverliese tot gevolg hê, maar dit kan veel erger wees en selfs tot drie maande duur indien dit nie nougeset deur almal nagekom word nie,

Die VF Plus steun hierdie stappe en sal kyk hoe die situasie ontwikkel. Die party sal deur verklarings en ander vorme van kommunikasie met die publiek kommunikeer oor die aangeleentheid.

Die party verwag van die regering om ook in te gryp by munisipaliteite waar veral watertekorte is om daadwerklik toe te sien dat daardie gemeenskappe voldoende water kry wat veral belangrik is vir higiëne.

Aangesien die huidige situasie op ‘n noodtoestand neerkom, moet maatskappye wat water voorsien, verplig word om water te verskaf waar dit benodig word.

Die VF Plus verwelkom die stigting van ‘n solidariteitsfonds en ander inisiatiewe om mense wat hul werk mag verloor, te help. Ook hier sal die VF Plus die situasie dophou om seker te maak die regering doen alles in sy vermoë om die mense van Suid-Afrika in hierdie krisisuur by te staan.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.