In 'n nuusbulletin van die SAUK op 20 September word oor die probleme in die Thembelihle-plaaslike munisipaliteit (Hopetown, Strydenburg) verslag gedoen.
Onder meer word verkeerdelik berig dat die munisipaliteit deur die EFF, die Siyathemba Gemeenskapsforum en die VF Plus bestuur word.
Die VF Plus se raadslid is mnr. Paul van Niekerk en hy is deur wyk 6 as raadslid verkies. Hy dien nie op die uitvoerende komitee of in enige uitvoerende posisie van die betrokke raad nie.
Dit is in ooreenstemming met die VF Plus se beleid om nie met óf die ANC óf die EFF in 'n koalisie te tree nie.
Van Niekerk beskik oor tegniese vaardighede, veral sover dit die pomp en verspreiding van water sowel as die herstel van dieselenjins, aangaan.
Hy staan derhalwe baie van sy tyd af om munisipale amptenare in dié verband te help. Hy meng nie met hul werk in nie, maar op aanvraag is hy beskikbaar om vaardighede te verskaf wat die munisipaliteit nie in sy personeel het nie.
Die VF Plus is onomwonde in opposisie teen sowel die ANC as die EFF. Nogtans is Van Niekerk 'n voorbeeld van 'n raadslid wat bo en behalwe sy pligte, tyd en kundigheid belê om dienslewering te verbeter.