Die ANC het geen behandeling vir die sieklike gesondheidsorg in die Vrystaat nie. Jaar na jaar diagnoseer die Ouditeur-Generaal (OG) die Vrystaatse departement met ‘n ernstige gebrek aan leierskap, bestuur en swak regering. Jaar na jaar sien Vrystaters geen verbetering van gesondheidsorg nie.
Die OG se oudit-uitkoms vir die departement gedurende 2017 tot 2018 toon:
• Onreëlmatige uitgawes van R820 miljoen (R596 miljoen in 2016-2017).
• Vrugtelose uitgawes van R3,1 miljoen (R900 duisend in 2016-2017).
• Ongemagtigde uitgawes van R141 miljoen (R68 miljoen in 2016-2017).
‘n Voorbeeld van swak bestuur is die departement se aanstelling van ‘n plaaslike diensverskaffer wat uitgekontrakteer was om gesondheidsorg-uitdagings aan te spreek. Die diensverskaffer moes met die mobiele klinieke van die departement fokus op effektiwiteit, dekking, spesialiteit en waarde vir geld.
Die diensverskaffer is R24 miljoen (R954 per pasiënt) hiervoor betaal.
Die projek was ‘n mislukking. ‘n Standaardtarief is vir pasiënte betaal, ongeag die dienste wat gelewer is. Dubbele betalings is vir sommige pasiënte gemaak en dienste is nooit effektief gemoniteer nie. Intussen het die diensverskaffer sy dienste beëindig voordat die termyn van die kontrak uitgedien was.
Intussen gaan die ANC voort met sy voorbereidings vir die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering, maar hy kan net na die Vrystaat kyk om te sien hoe dit hier reeds misluk het.
Die projek is een van vele mislukkings in die Vrystaatse departement van gesondheid wat, volgens die OB, op geen van die sleutel-fokuspunte van die departement verbeter het nie, maar eerder drasties gestagneer het.
Die VF Plus deel die OG se bevinding dat ‘n gebrek aan leierskap, finansiële bestuur en swak regering ‘n bron van kommer vir gesondheidsorg in die provinsie is.
Die OG se bevinding sluit onder meer in:
• ‘n Algehele gebrek aan leierskap in die departement.
• Ingryping is dringend nodig in die finansiële- en werksverrigting-bestuur.
• Swak regering veroorsaak dat amptenare nie verantwoordelik gehou word nie.
Die VF Plus sal aanhou om in die openbare rekeningekomitee terug te slaan teen swak bestuur en ‘n gebrek aan verantwoordbaarheid van amptenare wat nie hul plig teenoor die mense van die Vrystaat nakom nie.
Kontaknommers: 082 490 6663 / 076 629 6219