fbpx
Vryheidsfront Plus

Terwyl die ANC se onbesonne aksies hoogty vier, kan die Vrystaat se finansiële krisis nie afgeweer word nie

Tesourie kan nie eiehandig die Vrystaat van die huidige finansiële krisis red nie. Alle pogings wat aangewend word om die ekonomie te stimuleer is vrugteloos weens president Zuma se onbesonne aksies en besluite.

Die ondeurdagte optrede deur die president om die minister van finansies, mnr. Pravin Gordhan, terug te roep van sy amptelik internasionale besoek het die randwaarde laat tuimel. Die oomblik wat die ekonomie positiewe tekens toon plunder die ANC dit met hul onbesonne besluite en onbevoegdheid.

Alle pogings wat aangewend word om die huidige finansiële krisis te beredder is nutteloos as daar nie ‘n politieke wil by die regerende party bestaan om die krisis aan te spreek en om te keer nie. Die regerende party moet sy prioriteite herevalueer en fokus op infrastruktuurontwikkeling en -onderhoud in plaas van luukshede en mislukte projekte, het Wouter Wessels, VF Plus- LPW in die Vrystaatse Wetgewer, in ‘n debat oor die begroting van die Vrystaatse Tesourie gesê.

Die provinsiale tesourie het ‘n reuse taak om te verrig en die verpligtinge wat deur artikel 18 van die Wet op Openbare Finansiëlebestuur aan tesourie gestel word, naamlik die oorsig en monitering van alle provinsiale departemente en publieke entiteite se finansies is midde growwe wanbestuur, ongemagtigde uitgawes, begrotingstekorte en korrupsie amper onbegaanbaar. Tesourie moet egter geloof word vir die werk wat hulle as departement verrig, ten spyte van uiters moeilike omstandighede. In baie gevalle weet tesourie meer wat in departemente se finansies aangaan, as die leierskap van die departemente self.

Die provinsie kan nie inkomste genereer terwyl die entiteite wat vir hierdie inkomste verantwoordelike is nie funksioneer nie as gevolg van wanbestuur en onbevoegdheid. Provinsiale voertuigtoetsstasies en lisensiekantore is ‘n baie belangrike bron van inkomste vir die provinsie, maar talle van hierdie fasiliteite funksioneer net eenvoudig glad nie.

Telkom dreig om sy internetdienste aan die eNatis-stelsel op nasionale vlak te staak as gevolg van uitstaande skuld van R8 miljoen. Indien dit gebeur sal al die diensstasies en lisensiekantore daaronder ly – daar sal geen inkomste van hierdie belangrike bron gegenereer kan word nie.

Die ekonomie sal nooit suksesvol groei indien mislukte ideologie en beleid prioriteit geniet nie. Dit sal nie groei terwyl die staatskas geplunder en deur korrupsie uitgebuit word nie.

 

Kontakbesonderhede: 082 674 6670 / 072 997 8315

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.