fbpx
Vryheidsfront Plus

Tariefverhogings in Vrystaatse munisipaliteite wys hoe uit voeling ANC met realiteit is

Tariefverhogings in Vrystaatse munisipaliteite bewys weereens hoe uit voeling die ANC is met die finansiële realiteite van die Vrystaat én sy inwoners.

Die Vrystaat is tans onder geweldige ekonomiese druk en onrealistiese tariefverhogings in munisipaliteite sal bykomende finansiële druk op inwoners plaas. Dit sal meer wanbetaling veroorsaak en munisipaliteite se finansiële toestande verder laat versleg.

In sommige munisipaliteite word diensteheffings bo inflasie verhoog terwyl inwoners ly onder die swak dienslewering van die ANC.

Munisipaliteite moes eerder realiteite soos groeiende vlakke van werkloosheid en vooruitsigte van swak ekonomiese groei in ag geneem het met die opstel van hierdie begrotings. Om slegs belastings en tariewe te verhoog sal nie die finansiële volhoubaarheid van munisipaliteite herstel nie.

Ekonomiese groei is nodig en sal slegs deur 'n meer gunstige ekonomiese omgewing met bekostigbare belastings en tariewe bewerkstellig word. Munisipale belastings en tariewe moet dus eerder verlaag word om sodoende die plaaslike ekonomie te stimuleer.

Intussen is die begrotings van plaaslike munisipaliteite soos Nala (Bothaville, Wesselsbron) en Moqhaka (Kroonstad, Renovaal, Steynsrus, Vierfontein, Viljoenskroon) ooglopend verkiesingsbegrotings wat daarop gemik is om fondse te bestee waar die ANC se grootste kieserskorps is.

Munisipale paaie in hierdie landbougedrewe dorpe is in ‘n haglike toestand. Die ANC verkies egter om eerder stadions te bou as om die nodige herstelwerk aan paaie te doen om ekonomiese herstel te verseker.

In groter munisipaliteite soos Metsimaholo (Deneysville, Kragbron, Oranjeville, Sasolburg) is dienste soos riolering gebrekkig terwyl tariewe met 6% styg In Matjhabeng (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) word watertariewe met 6% verhoog, terwyl talle inwoners vir dae nie water het nie weens gebrekkige instandhouding en die voortslepende agterstallige skuld aan Sedibeng Water.

Dit is duidelik dat betalende inwoners van Vrystaatse munisipaliteite gestraf word vir die ANC se onvermoë om munisipaliteite te bestuur.

Kiesers het in die komende plaaslike regeringsverkiesing die geleentheid om saam met die VF Plus 'n sterk boodskap te stuur en die verval van die Vrystaat te stop.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.