fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus plaas druk op Mpumalanga-regering om in te gryp by diensleweringskrisis in Bethal

‘n Mosie van die VF Plus om die provinsiale regering van Mpumalanga te dwing om onmiddellik by die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (GMM) in te gryp en toe te sien dat die nodige dienste aan inwoners van Bethal gelewer word, is eenparig deur die wetgewer aanvaar.

Die GMM bedien buiten Bethal ook die dorpe Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda en Trichardt.

Inwoners van Bethal verduur in hierdie stadium 'n dubbele dosis beurtkrag weens wanbetaling aan Eskom deur die GMM. Dié munisipaliteit straf self die inwoners met ladingbesnoeiing. Dit lei dikwels tot 36 uur se opeenvolgende beurtkrag vir dié dorp wat ook die verskaffing van water en die verwydering van riool beïnvloed.

Ladingbesnoeiing is reeds in 2019 deur die GMM in Bethal in werking gestel.

In 2020 is die GMM in terme van Artikel 139 (5)(b) van die Grondwet onder administrasie geplaas wat vereis dat die provinsiale regering ‘n herstelplan moet instel om die GMM se vermoë te verseker om sy verpligtinge aan inwoners na te kom.

Tog het die inwoners van Bethal se omstandighede geensins verbeter nie en dit verswak inteendeel daagliks.

Dit bevestig die VF Plus se standpunt dat die bestaande stelsel van megastede en plaaslike munisipaliteite wat uit verskeie dorpe bestaan, verander moet word om plaaslike regering terug te bring na plaaslike gemeenskappe.

Die VF Plus het in 2020 skrywes gerig aan die destydse provinsiale LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Mandla Msibi, en aan die munisipale afbakeningsraad om ingevolge die Munisipale Strukture- en Munisipale Afbakeningswet te versoek vir die herbepaling van munisipale grense en die vestiging van Bethal as ‘n kleiner munisipaliteit.

Dit is onaanvaarbaar dat getroue belastingbetalers van Bethal gestraf word met voortdurende kragonderbrekings omdat die GMM nie sy grondwetlike verpligtinge kan nakom nie.

Die VF Plus is verder bekommerd oor die tekort aan skoon lopende water aan inwoners om die nodige Covid-19-gesondheidsprotokolle na te kom. Vervalle rioolinfrastruktuur veroorsaak rioolstortings wat ‘n gesondheidsgevaar vir mens en dier inhou.

Alhoewel die VF Plus verheug is dat die mosie eenparig aanvaar is, is die party bewus van die deurlopende gebrek aan die uitvoering van omkeerplanne deur die onderskeie vlakke van regering.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die inwoners van die GMM om seker te maak hulle is geregistreer as kiesers om met die plaaslike regeringsverkiesing op 27 Oktober saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat gebrekkige dienslewering en die verval van munisipaliteite gestop moet word.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.