fbpx
Vryheidsfront Plus

Tariefverhogings en swak dienslewering knou belastingbetalers

Die VF Plus het ‘n dringende beroep op die Gautengse wetgewerkomitee vir plaaslike regering en tradisionele sake (Cogta) gedoen om by die swakste presterende munisipaliteite in die provinsie in te gryp en toe te sien dat dienslewering hervat word. Die komitee het ingestem om oorsigbesoeke aan die munisipaliteite en metrorade te bring.

ANC-beheerde munisipaliteite knou belastingbetalers in Gauteng deur tariefverhogings in dorpe en stede waar dienslewering kwalik bestaan.

Onredelike tariefverhogings sou waarskynlik nie nodig gewees het nie indien munisipaliteite hul werk na behore uitgevoer het om munisipaliteite met meer omsigtigheid en eerlikheid te bestuur.

Die VF Plus het reeds gewaarsku dat belastingbetalers in ‘n sukkelende ekonomie nie verder belas moet word nie en dat munisipaliteite eerder ‘n uitweg moet vind om tariewe afwaarts aan te pas.

Die middelklas word direk hierdeur geraak, veral met die gevolge van die Covid-19-inperkings waar baie hul werk verloor het en sukkel om ekonomies te oorleef.

Die onderpresterende munisipaliteite van Merafong, Mogale City, Randwest, Emfuleni en Sedibeng het dringend ingryping nodig. Moedelose belastingbetalers moet telkens voor dooiemansdeur omdraai omdat munisipale dienssentrums gesluit is.

Die VF Plus is van mening dat die LUR vir Cogta, Lebogang Maile, eerder by munisipaliteite aan die Wes-Rand en Vaaldriehoek moes ingegryp het as om die Tshwane-metroraad onder provinsiale administrasie te plaas. Dorpe in dié gebiede word lamgelê deur riool- en elektrisiteitsprobleme.

Die VF Plus sal nie skroom om volgehoue druk op die provinsiale- en plaaslike regerings toe te pas om dienslewering in dorpe en stede te herstel tot voordeel van alle belastingbetalers nie.

Navrae: 071 604 9498

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.