Die VF Plus neem kennis van berigte dat die ANC-regering ‘n staatsbank op die been wil bring met befondsing vanuit pensioenfondse en beskou dit as niks anders nie as ‘n poging tot onteiening sonder vergoeding.
Enige ANC-beheerde staatsbank sal net ‘n nuwe enorme trog vir plundering daarstel met die gevolg dat daar geen waarde in so ‘n bank sal wees nie. Daarom sal die VF Plus hierdie planne met alle mag teenstaan.
Volgens berigte in The South African en Sunday Times (16 Augustus 2020) vorm die stigting van ‘n staatsbank deel van die ANC se ekonomiese “regrukplan” waar pensioene aangewend moet word om in regeringsprojekte te belê in die vorm van langtermyn-infrastruktuurprojekte en hoë-impak kapitaalprojekte.
Ten einde dit reg te kry, sal die ANC kyk na die wysiging van regulasie 28 van die Pensioenfondswet wat pensioenfondse sal verplig om in die ANC-regering se gedoemde projekte te belê deur middel van finansiële instellings vir staatsontwikkeling.
Gegewe die korruptiewe aard van bykans alle ANC-regeringsprojekte, sal die blootstelling van alle pensioenfondse hieraan tot enorme vernietiging van waarde in pensioenfondse lei. Dit kan selfs pensioene in totaal vernietig aangesien die deur oopgemaak word om weer en weer befondsing uit pensioenfondse te trek.
Die effek sal die Transnet-pensioensage na ‘n piekniek laat lyk. Daarom sal enige verpligte beleggings in regeringsprojekte niks ander wees nie as onteiening sonder vergoeding.
Die VF Plus is tans besig om ‘n plan op te stel om die roekelose plan van die ANC-regering te keer en potensiële skade te vermy.
Navrae: 082-391-3117


