fbpx
Vryheidsfront Plus

Swak finansiële bestuur en oorsig die oorsaak van Gautengse munisipaliteite wat misluk

Die wanfunksionering en klaaglike mislukking van munisipaliteite in Gauteng is die gevolg van senior ANC-bestuurslui en politieke leiers wat nie verantwoordbaar gehou word vir swak finansiële besluitneming nie.

Inwoners raak toenemend ontevrede oor leë politieke beloftes en die afwesigheid van behoorlike basiese dienslewering wat reeds jare voortduur.

Gewelddadige betogings en vandalisme word aangevuur deur opportunistiese politieke partye wat die situasie uitbuit ten koste van belastingbetalers.

Jare se gebrekkige dienslewering en lae inkomstevlakke het bygedra tot die ineenstorting van plaaslike regering wat gepaard gaan met wanbestuur, korrupsie en die vermorsing van belastinggeld. ‘n Groot aantal personeellede van die stadsrade is negatief omdat hulle onvoldoende toegerus is om tegniese dienste te lewer.

Verslae van stadsrade en die Gauteng-wetgewer toon onder meer dat daar meer bestuurders as tegniese personeel is om kritieke dienste te verrig.

Buiten vir die toenemende hoë vlakke van verarming en werkloosheid, het belastingbetalers in Gauteng vertroue in die ANC-regering verloor weens die toenemende korrupsie en selfverryking in plaaslike regerings. Dit is veral die kleiner munisipaliteite wat die gevolge hiervan dra.

Hoewel slimtegnologie dramaties ontwikkel, is die finansiële risiko-beheerstelsels wat op plaaslike en provinsiale vlakke gebruik word so verouderd, dat dit nie tred hou met die vlak van wanbesteding en korrupsie wat plaasvind nie.

Die ANC is op 'n plundertog en kleiner munisipaliteite is 'n maklike teiken vir bedrog, korrupsie en wanbestuur.

Die VF Plus spits hom daarop toe om die ANC-regering verantwoordbaar te hou en korrupte amptenare te ontbloot. Dit is belangrik dat daar na die belange van inwoners omgesien word en dat dienslewering die eerste prioriteit van munisipaliteite en metrorade is. Dit is net moontlik met behoorlike oorsig.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.