fbpx
Vryheidsfront Plus

Suid-Afrikaners in Coastlands Hotel in Durban moet vrygelaat word vir self-isolasie en kwarantyn; straks veiliger buite as binne teen virus

Suid-Afrikaners wat in die Coastlands Hotel in die Durbanse middestad ingedwing is om vir veertien dae onder kwarantyn tuis te gaan, moet met die nodige dokumentasie vrygelaat word om tuis self-isolasie of -kwarantyn te gaan toepas.

Dié gerief voldoen nie aan enige gesondheidstandaarde ingevolge die departement van gesondheid se handleiding oor kwarantyngeriewe wat op 3 Mei vanjaar uitgereik is nie.

Die VF Plus het die afgelope Woensdag klagtes vanaf mense ontvang wat op die Carnival Fascination-skip was wat in Durban se hawe vasgemeer het. Hierdie mense was werksaam op die skip. Volgens bronne is hulle meegedeel dat hulle sou tuisgaan by die City Lodge-hotel, maar met hul aankoms in die hawe is hul alfabeties opgedeel en een groep het in Coastlands beland.

Die mense moes eers vir ure buite in die straat wag om ingelaat te word en dit was daarna duidelik dat die hotel nie gereed is om as karantyngerief gebruik te word nie.

Personeel het glo aan die mense gesê die hotel is nie voldoende vir kwarantyn nie en dat die mense kan kom en gaan soos hulle wil. Daar is geen mediese personeel of mediese stasies in die hotel beskikbaar nie. Geen dokter was ook beskikbaar nie en die mense kon na winkels loop om kos te gaan koop.

Die kamers was vuil en nie ontsmet nie en daar is nie voldoende sekuriteit nie. Die groep het ook slegs ‘n klein bietjie tee en koffie vir die volgende veertien dae ontvang.

Die VF Plus het dadelik die saak onder die aandag van die departement van gesondheid en die kantoor van die minister van gesondheid gebring en versoek dat die mense dadelik getoets moet word dat hul uitslae so gou moontlik verkry kan word om vrygelaat te word.

Die VF Plus het ook versoek dat ‘n dokter en verpleegsters dadelik na die perseel gestuur word en dat reëlings vir privaattoetsing getref moet word. Die privaattoetsing het wel gistermiddag (Donderdag 4 Junie) plaasgevind.

Die VF Plus is deurlopend in kontak met die regering om die saak spoedig op te los. Dit is onduidelik waarom een helfte van die groep na City Lodge geneem is en die ander helfte na hierdie onvoldoende gerief Durban se middestad.

Die VF Plus vermoed dat daar ongerymdhede betrokke kan wees met die gebruik van die hotel en sal versoek dat duidelikheid verskaf word oor hoe die tender aan die hotel toegeken is, wie en wanneer die perseel geïnspekteer is en wie daarvoor afgeteken het.

Indien die hotel deel is van die R28 miljoen wat minister Patricia de Lille se departement van openbare werke aan private instansies betaal het om mense te huisves, dan kom dit neer op niks anders nie as openlike diefstal van die belastingbetaler se geld.

Die kwessie rondom kwarantyngeriewe waar mense gehuisves word wat vanaf buurlande of oorsee kom, moet nou opgelos word. Mense moet toegelaat word om self-isolasie of self-kwarantyn toe te pas nadat hul by die grensposte die nodige siftingstoets ondergaan het.

Almal kan daarna deur middel van hul selfone gemonitor word. Nie net word belastingbetalers se geld tans vermors en gesteel nie, maar mense word ook as misdadigers behandel en hul menseregte word in die proses heeltemal geskend.

Navrae: 060 556 4347

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.