fbpx
Vryheidsfront Plus

Suid-Afrika stuur op ‘n burgeroorlog af indien ekonomiese verval voortduur

Wat tans met die rand gebeur, is ‘n krisis en ‘n voorbeeld van hoe die ANC-regering Suid-Afrika se ekonomie geruïneer het, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie. Indien dit nie nou gerem word nie, sal Suid-Afrika binne 5 jaar kan verval in ernstige interne konflik soos almal veg vir beheer oor die laaste stuk rykdom en lewensmiddele.

Wat die laaste weke gebeur het, soos stakings en voorvalle van openbare geweldpleging, maak dit duidelik dat frustrasievlakke van baie mense buite beheer kan raak indien daar nie ingrypende veranderinge kom nie.

Hy sê dit is daarom van die uiterste belang dat voornemende kiesers kennis neem van die feit dat die VF Plus tans die mees vryemark-gerigte party in die parlement is met die enigste haalbare plan om die land se ekonomie te red en weer te laat groei. Dit is oor en oor bewys dat die vryemark ekonomie die enigste haalbare een is.

Volgens adv. Alberts speel eksterne faktore soos die invloed van wêreldpolitiek wel ‘n rol in wat plaaslike gebeur, maar die blote herverdeling van die land se rykdom deur Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en regstellende aksie het ‘n vernietigende invloed op wat gebeur.

“Die omvang van die situasie in Suid-Afrika is werklik ‘n krisis wat in ‘n groot mate deur die sakesektor onderskat word. Mediaberigte toon egter dat faktore soos werkloosheid, armoede en swak dienslewering reeds tot openbare onrus begin lei.

“Die ANC is besig om ekonomiese selfmoord te pleeg deur geen groei aan te moedig of werk te skep nie. Daar word nou selfs na metodes gekyk om staats- en private pensioendfondse te plunder as deel van die regering se sosialistiese agenda.

“Veral onrusbarend is dat die beleid van die land se amptelike opposisie, die Demokratiese Alliansie (DA), nie veel van dié van die ANC verskil nie. Dit moet elke besorgde persoon in Suid-Afrika se hare laat rys.

“Kiesers se enigste opsie is om nou te stem vir ‘n kollektief van opposisiepartye wat ‘n vryemarkgerigte ekonomie voorstaan waarin ekonomiese groei kan plaasvind.

“Dit is van die grootste belang dat kiesers, veral in Gauteng wat die hartland van Suid-Afrika se ekonomie is, reg stem om die ANC uit te hou en om die DA sodoende in ‘n koalisie te dwing met ‘n party soos die VF Plus wat kan toesien dat die beginsels van ‘n vryemark toegepas word.

“Hierdie is ongelukkig nie bangmaakpraatjies nie. Elke regdenkende mens wat daagliks sien en hoor wat in die land gebeur, sal my en baie ander se kommer deel oor die ekonomie en maatskaplike onstabiliteit wat so dwingend kan raak dat mense in opstand sal kom en veg vir basiese lewensmiddele.

“Dit is nie nodig om daardie punt te bereik nie. Dit is in die hande van die land se inwoners om ‘n verandering te weeg te bring. En die instrument is die verkiesing later vanjaar,” sê adv. Alberts.

 

082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.