Die VF Plus in Pretoria sê dat die Tshwane Metro eerder R500 000-00 moet spandeer aan die stad se voorkoms en dienslewering.
Dit volg na mediaberigte die afgelope week dat ’n buitensporige bedrag gespandeer is aan Pres. Zuma en die adjunk-president se konvooi na Nelspruit vir die ANC se verkiesingsveldtog.
Die leier van die VF Plus in Pretoria, Rdl Philip Van Staden, het gesê dat die Tshwane Metro se woonbuurte en begraafplase haglik lyk. “Rommel is alomteenwoordig en die gras staan hoog. 'n Mens is skaam om 'n burger van die stad te wees”.
Hy sê verder dat die stad glad nie vergelyk kan word met sy susterstad, Washington DC, nie.
"Dit slaan inwoners dronk waarom dienste tydens die Kerstyd tot 'n algehele stilstand moet kom. Inwoners moet altyd oor hierdie tydperk tevrede wees met 'n vuil stad. Die burgemeester roem altyd daarop dat Tshwane 'n susterstad van Washington DC is maar in daardie betrokke stad kom dienste nooit tot 'n stilstand nie.”
Volgens die VF Plus het derde-wêreld Afrika standaarde reeds in Pretoria posgevat en moet inwoners begin om sterk standpunt hierteen in te neem.
"Dit is nie die taak van belastingbetalers om begraafplase en strate skoon te hou nie. Inwoners betaal elke maand derduisende rande vir hierdie dienste en in plaas van salarisverhogings aan amptenare wat nie hul werk kan doen nie, moet daar eerder kundige mense in die stad aangestel word wat die werk kan doen.”
Van Staden het bygevoeg dat ingange na woonbuurtes reg deur die stad soos eeue oue bebosde gebiede lyk soos wat die grasse toegegroei het.
Raadslid Philip van Staden, Tshwane Metro
VF Plus Pretoria Streekleier
Tel: 084 015 4722