fbpx
Vryheidsfront Plus

Suid-Afrika moet ophou om bo sy vermoë te leef – fiskale afgrond al hoe nader

(Debat in parlement oor EFF se beroep vir die beëindiging van IMF- en Wêreldbanklenings)

Suid-Afrika moet ophou om bo sy vermoë te leef en meer skuld te maak as wat hy kan terugbetaal.

Die Suid-Afrikaanse regering se skuldlas is te hoog en verteenwoordig 'n aansienlike risiko vir die volhoubaarheid van openbare finansies. Die koste verbonde aan die rente op staatskuld dwing Suid-Afrika al hoe nader aan die fiskale afgrond.

Regeringskuld moet bestuur word deur hervormings wat ekonomiese groei gaan stimuleer, besnoeiings in openbare uitgawes, die afskaal van staatsondernemings en die uitroei van korrupsie.

Die voormalige minister van finansies, Tito Mboweni, het erken dat Suid-Afrika te veel skuld opgehoop het en dat die Covid-19-pandemie dit nog meer laat styg het. Uit elke rand wat Suid-Afrikaners in 2020 aan belasting betaal het, het 21 sent gegaan om rente op regeringskuld te finansier.

In Junie 2020 het Suid-Afrika 'n Covid-19-noodlening van $1 miljard van die New Development Bank, die multilaterale ontwikkelingsbank wat deur die Brics-state gestig is, ontvang.

Verdere lenings van die Wêreldbank en Afrika Ontwikkelingsbank het ook ter sprake gekom.

Die regering het homself daartoe verbind om die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se finansiële noodhulp vir die Covid-19-pandemie met volle deursigtigheid en aanspreeklikheid te bestuur en die lening is goedgekeur op grond van die voormalige minister van finansies se aspirasies om hervormings in te stel en die ekonomie beter te bestuur.

Die IMF was onder die indruk dat die openbare verkrygingstelsel opgeknap is om die swakhede wat staatskaping vergemaklik het, aan te spreek.

Tog is daar 'n vlaag bewerings van bedrog en die misbruik van fondse met betrekking tot aankope wat verband hou met die pandemie.

Dit was feitlik ‘n skouspel van regeringsgesindes en -kaders wat voordeel getrek het uit Covid-19-verwante aankope en kontrakte. Dit is duidelik dat president Cyril Ramaphosa nie die vermoë het om teen institusionele korrupsie op te tree nie.

Daar bestaan tereg vrese dat dieselfde kan gebeur met enige nuwe lenings wat die regering aangaan en wat met swaar verdiende belastingbetalersgeld terugbetaal en gefinansier word.

Die benarde finansiële posisie van Suid-Afrika sal slegs omgekeer word met volhoubare ekonomiese groei en fiskale dissipline.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.