Toenemende misdaad en onveiligheid in die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit is onlangs weer onder die soeklig geplaas met ’n oorsigbesoek van die Mpumalanga-wetgewer se portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid en daaropvolgende openbare verhore.
Inwoners het dit duidelik gemaak dat hulle nie meer veilig voel in hul eie woongebiede nie, terwyl die munisipaliteit en die polisie faal in hul plig om ’n veilige omgewing te verseker.
Die jongste data en oorsigverslae vir 2025/2026 toon ’n skerp toename in residensiële inbrake en kontakmisdaad, veral in Embalenhle en Bethal, terwyl Secunda en Evander geteister word deur eiendomsverwante misdaad en infrastruktuur-vandalisme.
Die munisipaliteit dra self by tot hierdie krisis weens die verwaarlosing van basiese dienslewering. Slegs ’n klein gedeelte van die begrote fondse vir instandhouding is bestee, wat lei tot donker woonbuurte met stukkende straatligte en oorgroeide parke en groenstroke wat gevaarlik geword het vir inwoners.
Die gemeenskapsveiligheidsforum, onder leiding van die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, L. Simelane, het reeds ’n jaar lank nie vergader nie. Haar afwesigheid tydens die openbare verhore op 23 April 2026 beklemtoon die gebrek aan aanspreeklikheid en leierskap.
Die munisipaliteit moet dringend begin om basiese veiligheidsmaatreëls te herstel. Die herstel van straatbeligting en die instandhouding van openbare ruimtes moet onmiddellik geprioritiseer word om te keer dat die misdaadkrisis eskaleer.
Sonder daadwerklike ingryping en leierskap sal die situasie voortgaan om te versleg en die sosio-ekonomiese stabiliteit van die hele streek bedreig.
Die VF Plus sal aanhou om binne die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid druk uit te oefen en sal toesien dat die munisipaliteit sy verpligtinge teenoor inwoners nakom.


