Die VF Plus neem kennis van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se pleidooi vir strenger vuurwapenbeheer en het hom versoek om te begin by polisie- en metropolisielede wat gereeld wapens verloor.
Lesufi het die uitspraak verlede Vrydagaand gelewer ná die dood van die hip hop-ster Kiernan ‘AKA’ Forbes en sy vriend die bekende sjef Tebello ‘Tibz’ Matsoane.
Die VF Plus het verskeie kere die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, daarop gewys dat wapens wat as bewysstukke ingedien word uit die polisie se pakkamers gesteel word.
Dit geld ook vuurwapens wat by polisiekantore ingedien word in afwagting van vuurwapenlisensies. Dié vuurwapens beland gereeld in misdadigers se hande.
In Februarie 2022 is 175 uit die Norwood-polisiekantoor gesteel. Baie van die vuurwapens is daarna op moord- en rooftonele gevind.
In die 2018/19-finansiële jaar in Gauteng is 124 polisiewapens verloor of gesteel, in die 2019/20-finansiële jaar 113 en in 2020/21-finansiële jaar 104.
Lt.genl. Mawela en sy sewe generaals het ‘n dringende omkeerplan nodig.
Vuurwapenwetgewing moet streng oor die hele spektrum toegepas word en nie net op die publiek nie.
Wetstoepassingslede moet ook met genoeg vuurwapens, ammunisie en voertuie toegerus word om hul taak suksesvol uit te voer.
In vele gevalle het misdadigers meer en beter wapens as polisielede.
Die tyd is nou om met 'n groot stryd te begin om Gauteng in ‘n misdaadvrye provinsie te omskep.
Die VF Plus twyfel egter of die ANC oor die politieke wil beskik om die taak uit te voer.
Die inwoners van Gauteng verdien beter as die ANC.