Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Staatsondernemings onder ANC is gekaap, wanbestuur en vernietig

(Begrotingsdebat in parlement: Openbare ondernemings

Gekaap, wanbestuur en vernietig. Dit is hoe die bestuur van staatsondernemings soos die SAL en Eskom onder die ANC ten beste beskryf kan word.

Dit laat die vraag of enige ingryping, soos dié van die presidensiële koördineringsraad vir openbare ondernemings wat eens alle mag hieroor in oud-president Jacob Zuma se hande geplaas het, die situasie enigsins kan beredder.

Nie eens die aanbevelings van die presidensiële oorsigkomitee oor openbare ondernemings, wat so lank gelede as 2014 gemaak is, is al uitgevoer nie.

Daar bestaan nog nie eens ‘n riglyn oor die vergoeding van uitvoerende beamptes of raadslede van hierdie entiteite nie.

Dan praat die minister, Pravin Gordhan, nog van verantwoording en gevolge. Dit is leë woorde. Diegene met politieke bande word steeds beskerm.

Daar moet kennis geneem word van die waarskuwing van energie-kundiges dat die toepassings van beurtkrag nadelig en skadelik is vir die land se kragnetwerk. Die netwerk is nie ontwerp en bestand teen voortdurende fluktuering nie.

Die totale ineenstorting van die land se kragnetwerk sal daarom nie voorkom word deur beurtkrag nie, maar sal in alle waarskynlikheid daardeur veroorsaak word.

Die minister verwys na die tekort aan tegniese- en ingenieurskundigheid by Eskom en die noodsaaklikheid van opleiding. Die vraag moet dan gevra word waarom hierdie kundigheid verlore geraak het.

Die realiteit is dat daar wel kundigheid beskikbaar is om te help om die kragnetwerk te herstel. Hulle moet weer aangewend word.

Wat die SAL aanbetref, praat die minister van openheid. Dan moet hy sê wat die situasie is rondom die verkoop van 51% van die SAL aan die Takatso-konsortium vir ’n bedrag wat moontlik net R51 beloop. Tot dusver is weinig oor dié transaksie bekend gemaak.

Daar is nou selfs ’n opvatting onder mense soos die EFF dat “wit mans” verantwoordelik is vir die vernietiging van die nasionale redery.

Die VF Plus wil hulle inlig dat Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL, gewis nie ’n wit man is nie.

Om Suid-Afrika weer op te bou, moet van alle kundigheid gebruik gemaak word, ongeag kleur of politieke verbintenis.

Daar moet ook weggedoen word met mislukte ideologieë en beleid. Om dit te bereik, sal ook weggedoen moet word met die huidge regering wat alles in die land vernietig het. Suid-Afrika en sy mense verdien beter as die ANC.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.