fbpx
Vryheidsfront Plus

Teer-belofte ná dekades bewaarheid

Inwoners van die Karoo Hoogland-plaaslike munisipaliteit (Williston, Fraserburg en Sutherland) het al amper moed opgegee omdat daar vir soveel jaar ‘n teerpad tussen Fraserburg en Williston beloof is, maar niks gerealiseer het nie.

Die lang wag is nou iets van die verlede en dié pad word uiteindelik geteer.

Mnr. Pieter Uys van Down Touch Investments, wat met die projek gemoeid is, het Maandag met die werk begin.

Verskeie faktore het in die verlede die teer van dié pad vertraag.

Een daarvan was die onsekerheid oor watter dorp se mense as werkers aangestel moet word.

Die inwoners van Fraserburg het uiteraard gevoel dat werkers uit hul dorp voorkeur behoort te kry. Die struikelblok is uit die weg geruim met die besluit dat werkers uit dié dorp voorkeur sal kry.

Die hoof-indiensnemingsbeampte is reeds aangestel wat werkskepping vir sowat 50 plaaslike mense sal verseker.

Die kwessie van verblyf vir die werkers is ook nie meer ‘n probleem nie aangesien werkers van Fraserburg gebruik gaan word.

Die teerpad tussen Fraserburg en Williston sal van die wêreld se mees opwindende moontlikhede in astro-toerisme ontsluit wat nog altyd deur swak paaie gekniehalter is.

Fraserburg kan met 'n teerpad van Beaufort-Wes bereik word, Sutherland vanaf Laingsburg en Williston is op 'n hoofroete wat Kimberley met die N7 by Vanrhynsdorp verbind.

Die drie dorpe word egter met swak grondpaaie verbind. Hierdie pad sal dus integrasie binne die Karoo Hoogland-munisipaliteit moontlik maak en só die ekonomie stimuleer.

Die projek sal sowat sestien maande duur.

Die VF Plus is opgewonde daaroor dat nog ‘n Noord-Kaapse dorp die nodige aandag kry om vooruit te gaan en sal die projek met belangstelling volg.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.