fbpx
Vryheidsfront Plus
Vryheidsfront Plus

Staatsgeld misbruik om amptenare te intimideer om e-tolskyfies te koop

Die Vryheidsfront Plus neem met groot misnoeë kennis van die staat se intimidasie van amptenare, asook die gebruik van staatsbronne en staatsgeld, om sy werkers te intimideer om e-tolskyfies te koop, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Uit ‘n dokument in die VF Plus se besit, word ‘alle werknemers’ van die department van gesondheid gemaan om te registreer vir die e-tolstelsel wat luidens die skrywe ‘teen die einde van die jaar’ in werking gaan tree.

Die skrywe is gedoen op die amptelike briefhoof van die department en is gerig aan alle adjunkdirekteurs-generaal, groepsbestuurders,  direkteurs, adjunkdirekteurs en afdelingshoofde wat aangesê word om dit te versprei onder alle amptenare.

Die brief is gestuur onder die naam van me. D. Tshabalala, hoofdirekteur van aankope (supply chain) op 28 Oktober vanjaar (brief aangeheg).

Volgens adv. Alberts is dit onaanvaarbaar dat die staat sy masjinerie en geld kan misbruik om amptenare op hierdie wyse te intimideer om deel te hê aan ‘n stelsel wat die allerweë as ongrondwetlik beskou word en waarteen die VF Plus nou in die hof gaan veg.

“Die VF Plus het lank ‘n alleenstryd gevoer teen die E-Tolwet en hierdie stryd het in die laaste weke geweldige stukrag gekry toe ander daarby aangesluit het.

“Ons herhaal weer dat mense nie skyfies moet koop nie aangesien daar geen wetlike verpligting op padgebruikers  is om vir die stelsel te registreer  nie. Registrasie sal bloot dien om dit makliker afdwingbaar vir die staat te maak.

“Die minister van vervoer het reeds in antwoord op ‘n amptelik geskrewe vraag van die VF Plus bevestig dat geen spesiale howe ingestel gaan word om die wet af te dwing nie.

“Met die huidige situasie van oorvol hofrolle en ‘n geweldige agterstand wat reeds met bestaande sake ondervind word, is daar geen manier hoe massas bykomende sake wat uit e-tol kan voortspruit, ook deur die howe geprosesseer kan word nie. Die stelsel sal in duie stort.

“Hierdie jongste vergryp van die staat kom neer op die onwettige vermorsing van staatsgeld om die land se burgers te dreig om gestalte te gee aan ‘n ongrondwetlike wet.

“Die VF Plus sal dit bestry soos hy nog deurentyd met die e-tolstelsel doen, en gaan onverwyld ‘n klag by die Staatsdienskommissie hieroor indien,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.