Die Vryheidsfront Plus het gister sy ernstige kommer uitgespreek teenoor die Wes-Kaapse minister van veiligheid, mnr. Dan Plato (LPW), oor die wanordelike, roekelose en onverskillige protesoptogte in die strate van Kaapstad, sê mnr. André Fourie, Vryheidsfront Plus-raadslid vir die stad.
Daar is veral gewys op die ontwrigting van verkeer op die N2 wat lei tot onwettige optredes soos geweld en plundery wat inbreek maak op die veiligheid en regte van wetsgehoorsame inwoners en sakelui.
Volgens mnr. Fourie wil dit voorkom of daar nie ‘n politieke uitweg en stem vir die ontevredenes is nie en dat daar nie ‘n wettige regering op nasionale, provinsiale en plaaslike-regeringsvlak is om orde te handhaaf nie.
“Indien die wettelose massas aanspraak maak op hul reg om te protesteer, kan die wetsgehoorsames eweneens aanspraak maak op veiligheid en beskerming en om vreedsaam met hul dagtake voort te gaan.
Daar is sprake van nog ‘n groter massaoptrede en ontwrigting op 29 November en die vraag is of die owerhede gereed en opgewasse is om so ‘n aanslag die hoof te bied. Plato het die onderneming gegee dat die saak op die hoogste vlak bespreek word en dat hy aan die VF Plus terugvoering sal gee oor ‘n plan van aksie.
Die VF Plus is van mening dat ‘n taakspan saamgestel moet word deur nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede wat op kort kennisgewing kan intree om wet en orde te handhaaf – selfs al moet die stelsel van vrywillige reserviste heringestel word om die veiligheidsmagte by te staan.
Benewens die veiligheid van wetsgehoorsames, is Kaapstad afhanklik van toerisme en om beleggers te lok vir werkskepping. Die massas begryp dit klaarblyklik nie en ondermyn hulself net verder deur hul optrede.
Die beeld van Kaapstad lei skade en almal in die metro gaan uiteindelik die prys betaal indien hierdie roekeloosheid en ontwrigting nie gekeer word nie.
Navrae:
Kontaknommer: 083 626 1497
Kontaknommer: 083 441 9262
Kontaknommer: 072 336 6352