Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Spookbates-krisis: Tshwane verklaar miljarde se belastinggeld as verlore

Die VF Plus het tydens die jongste raadsvergadering van die Tshwane-metroraad die verslag van die departement van paaie en vervoer, wat vra vir die afskryf van kapitaalbates ter waarde van R101 miljoen, verwerp.

Só ’n besluit beteken dat belastinggeld amptelik as verlore verklaar word – ’n erkenning van mislukking wat die metro se finansiële stabiliteit verder ondermyn en inwoners van broodnodige infrastruktuur beroof.

Die probleem van sogenaamde spookbates is lankal bekend. Reeds in 2022 het die VF Plus gewaarsku oor die gebrek aan behoorlike boekhouding vir bates-onder-konstruksie wat met belastinggeld begin is, maar nooit voltooi of in gebruik geneem is nie.

Hierdie projekte lewer geen waarde of diens aan inwoners nie, maar bly jare lank op die boeke en skep ’n vals beeld van kapitaalbates.

In 2023 het ’n lys van 2 435 oop projekte met ’n geskatte waarde van R12,78 miljard aan die lig gekom. Die jongste verslag dek slegs 539 projekte in een departement, met ’n waarde van R2,62 miljard – ’n duidelike bewys dat die omvang van die krisis veel groter is as wat tans erken word.

Selfs die uitvoerende burgemeester, dr. Nasiphi Moya, het in 2025 erken dat projekte dikwels sonder behoorlike beplanning, haalbaarheidstudies of begrotingsekerheid begin is. Tog wys die huidige verslag dat daar steeds geen gevolge vir swak bestuur is nie

Die departement probeer die skuld verskuif na konsultante, terwyl amptenare wat R101 miljoen bestee het aan projekte wat nooit gebou is nie, beskerm word.

Hierdie optrede is ’n belediging vir inwoners van Tshwane en ’n handboekvoorbeeld van vrugtelose en verkwistende uitgawes.

Die VF Plus dien nie op die raad om konsultante te ondersoek nie, maar om toesig te hou oor amptenare wat belastinggeld bestuur. Deur amptenare te beskerm, faal die metro sy inwoners en ondermyn dit die beginsel van aanspreeklikheid.

Die VF Plus sal nie toelaat dat ’n finansiële risiko van R2,6 miljard onder die mat ingevee word nie en het amptelik ʼn teenstem aangeteken om te wys dat die era van onverantwoordbare besteding verby is.

Inwoners verdien ’n metro wat verantwoordelik bestuur word – nie een wat verskonings aanbied terwyl miljarde rand verdwyn nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.