Die VF Plus gaan die Gautengse premier, David Makhura en die LUR vir plaaslike regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta), Lebogang Maile, versoek om die prosedures wat gevolg is tydens die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) se raadsvergadering van verlede Vrydag, te ondersoek en ‘n verslag daaroor voor te lê.
Dit volg na die speaker van Mogale City, Noluthando Mangole, se boelie-taktiek weereens chaos veroorsaak het toe sy geweier het om ‘n stemming tydens die tweede aangepaste begrotingsvergadering toe te laat.
Mangole het gedurende die begrotingsvergadering haar posisie misbruik en aangedui dat daar geen besware teen die begroting aangehoor is nie en het die item onveranderd goedgekeur.
Die nuut verkose burgemeester, Francis Makgatho, het gedurende die vergadering gedreig dat indien raadslede nie die begroting goedkeur nie, die munisipaliteit nie kan kwalifiseer vir die toewysings van nasionale tesourie nie en gevolglik nie hul Eskom-rekening sal kan vereffen nie. Volgens hom is personeel en ampsdraers se salarisse ook in die gedrang.
Makgatho het met die behandeling van elke item verduidelik waarom dit nie in die bepaalde tydraamwerk afgehandel is nie. Items op die agenda het agterweë gebly met die ANC-beheerde raad se doelbewuste vertraging om ‘n nuwe burgemeester te verkies na die afsterwe van die voormalige burgemeester, Patrick Lipudi, op 12 Januarie vanjaar.
Geen raadsvergaderings is geskeduleer nie aangesien die ANC se koukus nie voltallig was nie en daar die moontlikheid van ‘n veelparty-vennootskap was.
Die aangepaste begroting is ongebalanseerd. ‘n Voorbeeld is dat salarisse en gekontrakteerde uitgawes gesamentlik 51% van die begroting se uitgawes uitmaak ten koste van basiese dienslewering en infrastruktuur.
Kontaknommer: 082 806 7891