fbpx
Vryheidsfront Plus

Soweto skuld Eskom R17 miljard – helfte van die land se skuld

Die wanbetalingskultuur van elektrisiteitsverbruikers in Soweto is seker die grootste oorsaak dat Eskom feitlik op sy knieë gedwing is.

Luidens ‘n verslag van die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (CoGTA) wat aan die Gauteng-wetgewer se CoGTA-komitee voorgelê is, skuld Soweto Eskom meer as R17 miljard wat die helfte van die land se skuld aan Eskom beloop.

Soweto se wanbetaling duur reeds jare lank en politici probeer sonder veel sukses om kragverbruikers te oorreed om gedeeltes van hul skuld te betaal. Dreigemente om die kragtoevoer af te sny dien ook geen doel nie. Inwoners hou vol die ANC het in hul verkiesingsbeloftes aan kiesers gratis elektrisiteit en water belowe. Die kultuur van nie-betaling het nou ‘n nalatenskap van die ANC-struggle geword.

Intussen worstel die nasionale kragvoorsiener om finansieel te oorleef en het in 2018 ‘n laagtepunt beleef. Die situasie word vererger deur ander nie-betalers, fiskale ongerymdhede, bedrog en wanbestuur.

Dit wil voorkom asof Eskom ook geen werkbare plan het om die R34 miljard in te vorder wat onderpresterende munisipaliteite aan hom skuld nie.

Daarbenewens is Eskom se operasionele kapasiteit ook nie na wense nie en ongeoorloofde tariefverhogings oor jare, het geen verligting gebring nie.

Verdere druk word op die betalende middelklasburger geplaas om die skuldlas en verantwoordelikhede van nie-betalers en onderpresterende munisipaliteite te dra in ‘n omgewing waar munisipaliteite se skuldlas die afgelope agtien maande met sowat 80% gestyg het.

Alhoewel die ANC-regering 'n reddingsboei aan die skuldgeteisterde Eskom probeer uitgooi, is die fiskale en operasionele skade reeds baie groot en is daar min hoop dat 'n volhoubare finansiële ommekeer bewerkstellig kan word. ‘n Aksieplan om Soweto se agterstallige skuld op ‘n dringende basis in te vorder, is donker.

Die kwessie is 'n kopsorg vir die departement van samewerkende regering, maar daar moet streng maatreëls in plek geplaas word om te midde van toenemende verarming van verbruikers alternatiewe kragvoorsiening aan huishoudings te lewer.

Kontaknommer: 071 604 9498

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.