fbpx
Vryheidsfront Plus

Staatsrede 2019: ‘n Voortsetting van leë ANC-retoriek en beloftes sonder dade

‘n Twee uur lange-toespraak waarin ‘n goeie samevatting van die land se probleme gegee is sonder om ‘n enkele oplossing aan te bied. Dit is hoe die teleurstellende staatsrede van pres. Cyril Ramaphosa vanaand in ‘n neutedop opgesom kan word.

Die ANC het oor ‘n kwarteeu by herhaling gewys hy het doodeenvoudig nie die vermoë om die land se probleme en uitdagings die hoof te bied nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het simpatie betuig met die families van leerlinge wat tragies in oop skool toilette verdink het, asook met die swart student wat gister in Durban doodgeskiet is. Hy kon egter nie enige tyd vind om te simpatiseer met die ouers en gemeenskap van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waar vier leerlinge in ‘n staatskool gesterf het en meer as twintig ernstig beseer is nie.

Die president se prioriteit om onderwys te verbeter is om geld te bestee aan tablette vir elke leerling in elke skool in Suid-Afrika, eerder as om vervalle skool-infrastruktuur op te gradeer en onderwysers op te lei.

Wat onteiening sonder vergoeding aanbetref, was dit weer op die agenda sonder om enige aanduiding te gee hoe dit uitgevoer gaan word.

President Ramaphosa het bloot voortgeborduur op die ANC se leë beloftes oor die afgelope 25 jaar oor hoe die ekonomie gestimuleer moet word om werk te skep. Dit gebeur egter nie, en die VF Plus wil die president die versekering gee dit sal ook nie gebeur indien die regering voortgaan met onteiening sonder vergoeding nie.

Daar is ‘n groot verskil tussen drome en die realiteit oor die land se probleme. Die president sê byvoorbeeld hy wil 274 000 werkgeleenthede per jaar skep. Die realiteit is dat sowat 800 000 matrikulante elke jaar die arbeidsmark betree. Dit is byna drie keer meer as die werk wat hy wil skep.

Die realiteit is ook dat werkloosheid in Suid-Afrika op bykans 38% staan. Dit dien as bewys dat mooi woorde alleen nie die land se probleme gaan oplos nie.

Die president maak melding van ‘n instituut vir nasionale intelligensie. Dit herinner sterk aan die staatsveiligheidsraad van die vorige bedeling. Die vraag moet gevra word wat die doel daarvan is. Daar is genoeg bestaande intelligensiestrukture in die land en hierdie stap is kommerwekkend.

Die president vra voorstelle oor hoe om dienslewering van regeringskant te verbeter. Die VF Plus se antwoord hierop is baie eenvoudig: Doen weg met Regstellende Aksie en kry bevoegde mense om die werk te doen. Dit is ‘n praktiese, werkbare oplossing.

Die klem wat pres. Ramaphosa op die uitroei van korrupsie plaas word verwelkom, maar die aankondiging dat die staat by die opleidingskool vir staatsamptenare nou na 25 jaar ‘n kursus in etiek en teen korrupsie gaan instel, is ironies en eintlik tragies.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.