Dit is hoog tyd dat daar opgetree word teen amptenare van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) wat betrokke is by korrupsie en bedrog en die munisipaliteit die grond in bestuur terwyl getroue belastingbetalers jaarliks R1,8 miljard opdok net om te sien hoe die munisipaliteit agteruitgaan.
‘n Span van sowat twintig lede van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) en die Valke het vanoggend toegeslaan op die munisipaliteit se kantore.
Volgens beeldmateriaal van die nuusnetwerk eNCA is beslag gelê op dokumente wat vermoedelik verband hou met aankope rondom Covid-19-benodighede.
Luidens die nuusberig gaan die kollig van die ondersoek ook val op die kantoor van die munisipaliteit se munisipale bestuurder.
Die VF Plus het oor die laaste paar jaar verskeie klagte oor moontlike tenderbedrog by die Valke ingedien.
Dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers hul deel moet bydra om die munisipaliteit te onderhou terwyl alles om hulle in duie stort en paaie so sleg en vol gate is dat dit byna onrybaar is.
Betalende inwoners van Matlosana voel toenemend ontevrede omdat hul swaarverdiende belastinggeld wanaangewend en gesteel word en dat hulle nie waarde vir hul geld kry nie.
Indien die munisipaliteit nie die nodige dienste lewer met R1,8 miljard wat hy in nie, is dit verstaanbaar dat inwoners toenemend in opstand gaan kom teen die betaling van belasting.
Die optrede van die SOE en die Valke vandag onderstreep die groot impak wat vermoedelike korrupsie en bedrog het op die totale gebrek aan dienslewering.
Die VF Plus verwelkom die ondersoek en sal wil sien dat dit spoedig en deeglik afgehandel word en dat die skuldiges agter tralies beland waart hulle hoort.
‘n Blote raps oor die vingers of die gebruiklike herontplooiing van die skuldiges met ANC-bande sal nie aanvaarbaar wees nie.