VF Plus is bekommerd oor die lae slaagsyfer van nuwe aanlyn-leerlinglisensietoetse vir voertuie.
‘n Buitengewone aantal aansoekers druip die toets omdat vrae swak verwoord en moeilik verstaanbaar is, selfs vir persone wat goed vertroud is met die padreëls.
In antwoord op ʼn geskrewe vraag van die VF Plus aan die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, is bevestig dat die gemiddelde slaagsyfer sedert die inwerkingstelling van die aanlynstelsel in dié provinsie ’n skamele 18% beloop.
Sedert die aanvang van die stelsel op 26 Mei 2025, is 142 100 leerlinglisensietoetse afgelê, met slegs twee uit elke tien kandidate wat slaag.
Vir baie jong mense is die verkryging van ’n bestuurderslisensie ’n noodsaaklike eerste stap om toegang tot die arbeidsmarkte kry. Hierdie stelsel het nou egter ’n struikelblok geword om ’n lisensie te bekom.
Dit gebeur op ’n tydstip waar jeugwerkloosheid in Suid-Afrika van die hoogste ter wêreld is.
Alhoewel die aanlyntoets in al elf amptelike tale beskikbaar is, het die departement bevestig dat geen taalvaardigheidstoets van die inhoud gedoen is voor die amptelike bekendstelling nie.
Dit wek die vraag of kandidate druip weens ’n gebrek aan kennis van die verkeersreëls, of omdat hulle sukkel om die bewoording en vertaalde vrae te verstaan.
Die party doen ’n beroep op die Wes-Kaapse regering en die departement van mobiliteit om jong mense tegemoet te kom deur ’n proeflopie of oefentoets beskikbaar te stel voordat die formele eksamen afgelê word.
Só kan kandidate die aanlyn stelsel vooraf ervaar, die vraagstelling beter verstaan en met groter selfvertroue die amptelike toets aflê.
Dit sal regverdigheid bevorder en die integriteit van die eksamen beskerm, terwyl die huidige stelsel verder hersien word.
Jong mense verdien ’n stelsel wat regverdig en betroubaar is en in staat is om hul kennis van die verkeersreëls te toets – nie een wat ontwerp is om hulle te laat druip nie.


