Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Noordwes-premier faal inwoners van Zeerust en Groot Marico met leë beloftes oor raadslede

Noordwes se premier, Lazarus Mokgosi, se versuim om sy woord te hou en ferm op te tree teen ‘n groep raadslede wat die Ramotshere Moiloa-plaaslike munisipaliteit in Julie en Augustus 2025 in chaos gedompel het, is skandelik.

In Julie verlede jaar het ‘n ANC-faksie in die munisipale raad, tesame met raadslede van sommige opposisiepartye, ‘n onreëlmatige “raadsvergadering” gehou waar hulle onder meer ‘n nuwe “burgemeester” verkies het.

Hul optrede het tot groot verwarring onder plaaslike inwoners gelei en die munisipale administrasie is vir weke ontwrig. Munisipale dienste is lamgelê en inwoners en munisipale amptenare is aan intimidasie en geweld onderwerp.

Die premier en die LUR vir samewerkende regering, behuising en tradisionele sake (Cogta), Oageng Molapisi, het hierop ‘n spesiale raadsvergadering belê om die munisipale raad en gemeenskap in te lig oor beoogde regstellende stappe deur die provinsiale regering. Die vergadering het op 5 September plaasgevind.

Beide Mokgosi en Molapisi het hulle sterk teen die betrokke raadslede se onwettige en soms misdadige optrede uitgespreek en onderneem om ferm teen die skuldiges op te tree.

‘n Ad hoc-komitee onder leiding van regsgeleerdes is op die been gebring met die opdrag om die betrokke raadslede se optrede te ondersoek, en binne sestig dae daaroor verslag te doen met aanbevelings vir verdere optrede.

Daar is onderneem om terugvoer oor die ondersoek aan die munisipale raad te gee en die verslag in Desember bekend te stel.

Intussen het die betrokke raadslede verskeie regsgedinge teen die munisipaliteit aanhangig gemaak waarteen die munisipaliteit homself teen enorme koste moes verweer. Die regskoste vir die onderskeie sake beloop meer as R4,1 miljoen.

Hierdie besteding is teen die agtergrond van ‘n munisipaliteit wat lank reeds onder groot finansiële druk verkeer.

Ten spyte van verskeie versoeke van die VF Plus is geen terugvoering nog gegee nie en van die verslag is nie ‘n woord gerep nie. Geen geregtelike of ander stappe is teen die skuldiges geneem nie terwyl die toepaslike munisipale wetgewing dit onder meer uitdruklik stel dat diesulkes afgedank behoort te word en verantwoordelik is vir enige finansiële skade wat die munisipaliteit weens hul optrede gely het.

Dit is noodsaaklik dat die premier nou sy woord gestand doen en dringend doeltreffende stappe teen die skuldiges instel, en ook seker maak dat die finansiële verliese wat Motshere Moiloa gely het, van die skuldiges verhaal word.

Die VF Plus sal voortgaan om die ANC en ander se vergrype bloot te lê en om die belange van Zeerust en Groot Marico se inwoners te beskerm.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.