‘n Klag van die VF Plus oor besoedeling van onder meer die Brits-dam vanuit die Rooiwal-rioolaanleg noord van Pretoria, het die gewenste uitwerking gehad en is deur nasionale departement van water en sanitasie ondersoek.
Mnr. Theunis Vogel, ’n plaaslike boer en aspirant-raadslidkandidaat vir die VF Plus, het die klag ingedien. Die departement het nou in ‘n skrywe bevestig dat sy ondersoek moontlike oortredings van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) deur die Tshwane-metro, uitgewys het. (Brief hierby aangeheg).
Die departement sal voortgaan met die nodige regstappe om te seker te maak dat die oortredings reggestel word.
Mnr. Vogel boer reg langs die Apiesrivier en voer sedert 2014 ’n regstryd teen die Tshwane-metro oor die Rooiwal-watersuiweringsaanleg wat reeds langer as twaalf jaar nie behoorlik funksioneer nie.
Altesame 75% van die aanleg is buite werking. Die metro het reeds twee kontrakteurs aangestel om dit te herstel. Eers die omstrede Edwin Sodi en meer onlangs ’n maatskappy van wie al die direkteure en aandeelhouers Zimbabwiese burgers is.
Die metro het reeds meer as R250 miljoen aan hierdie kontrakteurs betaal en steeds vloei massas rou riool vanaf die wanfunksionele rioolwerke na die Apiesrivier vanwaar dit landbouprojekte langs die rivier vergiftig en boere se vermoë om te produseer, vernietig.
Die feit dat die nasionale departement ingryp, is goeie nuus en span die kroon op die onvermoeide en harde werk van mnr. Vogel om die probleem op te los.
Die VF Plus sal die departement se optrede en die uitvoering van regstappe noukeurig monitor om seker te maak die skuldiges ry aan die pen en dat die aanleg so gou as moontlik herstel word.


