Slaggate op die R500 na Carletonville sal vandeesweek reggemaak word nadat die VF Plus die Gautengse departement van paaie en vervoer versoek het om dringend aandag aan die pad te gee.
Dié departement se taakspan-woordvoerder, me. Lineo Ramabodu, het namens die LUR, me. Kedibone Diale-Tlabela, saam met die VF Plus ‘n oorsigbesoek gebring aan die R500.
Die pad is besaai met slaggate wat ‘n gevaar inhou vir motoriste. Motoriste word gedwing om koes-koes te ry om die grootste slaggate te vermy.
In September verlede jaar is twee mense dood en vier beseer nadat ‘n motor ‘n slaggat getref het.
Plaasboere en hul werkers vul die slaggate, maar dit is van korte duur voordat reën dit weer oopspoel.
Die VF Plus gaan druk op departement plaas om ook aandag te skenk aan probleem-paaie in die plaaslike munisipaliteite van Emfuleni, Merafong en Randwest City. In hierdie drie munisipaliteite word die meeste slaggate aangetref.
Die departement is tans besig om verskeie sleutelpaaie in Gauteng te herstel. Dit sluit in Hendrik Potgieterstraat aan die Wes-Rand waar ‘n sinkgat verlede jaar gevorm het. Die pad sal waarskynlik in November vanjaar herstel wees.
Die VF Plus sal aanhou om druk op die departement van paaie en vervoer en munisipaliteite te plaas om te sorg dat paaie in Gauteng in stand gehou word.
Inwoners word genooi om enige probleme met paaie aan die VF Plus se Wes-Rand-kantoor aan te meld by die volgende foonnommer: 010-446 8882


